NewsNews

Moorde in SA het met 66,2% toegeneem!

Die skokkende toename in die amptelike misdaadsyfers van Suid-Afrika is ʼn bewys dat die polisie teen ʼn vinnige tempo besig is om die stryd teen misdaad te verloor.

Volgens Dr. Pieter Groenewald, die VF Plus-leier, dien dit ook as bewys dat daar diepgaande probleme in die polisiemag is en dat die regering nie in staat is om dit reg te ruk nie.

Alle kontakmisdaad in die land het in die eerste kwartaal van die finansiële jaar met dubbelsyfers toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Ander kontakmisdaad buiten moord, wat insluit poging tot moord, seksuele oortredings en alle vorme van aanranding is op met 60,6%. Daar was 76 936 voorvalle van aanranding terwyl verkragting toegeneem het met 72,4%. Altesame 181 plaasaanvalle is opgeteken en 15 mense is in die aanvalle vermoor. Transito-rooftogte, wat met baie geweld gepaardgaan, het met 142.1% gestyg. Daar was 46 transito-rooftogte – 27 meer as in dieselfde tydperk verlede jaar. Die gevreesde trio-misdade soos gewapende roof, motorkaping en aanvalle in woonhuise het eweneens skerp gestyg met motorkapings wat met 92,2% toegeneem het. Min. Cele het hierdie syfers probeer afwater deur dit te vergelyk met die inperkingsperiodes van verlede jaar. Dit hou nie steek nie aangesien die polisie ʼn toename moes voorsien en daarvolgens moes beplan en optree. Met die onlangse onrus in die land het dit duidelik geblyk dat die land se intelligensiedienste nie op standaard is nie. Die jongste misdaadstatistiek dien ook as bewys dat die polisie se misdaadintelligensie nie meer in staat is om sy werk te doen nie. Minister Cele het vandag tydens die bekendmaking van die misdaadstatistiek aan ʼn joernalis erken dat geen nuwe rekrute die afgelope twee finansiële jare ingeneem is nie. Dit het ʼn tekort gelaat van 14 000 polisielede. Hieruit blyk dit duidelik dat gesoute en ervare polisielede die diens verlaat en nie vervang word nie. Die regering sal ernstig moet besin en ingrypende stappe neem om te keer dat Suid-Afrika tot ʼn misdaadparadys verval.

Related Articles

Back to top button