NewsNews

Vermeende ‘aanhitser’ praat glo in stemboodskap oor polisievoertuie aan die brand steek

“In the apartheidsera het ons polisievoertuie aan die brand gesteek, hoekom kan ons nie nou ook so maak nie?"

Só het Themba Mnisi, die man wat glo mense aangehits het om te plunder en brande te stig tydens onlangs onluste in die Vaaldriehoek, glo in ‘n stemboodskap op ‘n WhatsApp-groep genaamd “Vaal Operation Dudula” gesê.

Mnisi is ook die stigter en die administrateur van die WhatsApp-groep met 255 lede, wat volgens die staat gestig is met die doel om van buitelanders in die Vaaldriehoek ontslae te raak.

“Dudula” is die Zulu-woord vir platveë.

Hy het Donderdag 19 Augustus sy borgaansoek in die Vereeniging-landdroshof gebring.

Mnisi het in die beskuldigtebank geskuif met ‘n silwer baadjie met die logo van die Amerikaanse ruimte agentskap NASA op en ‘n swart Adidas-sweetpakbroek met khaki-strepe.

Op sy rug was dieselfde kenmerkende rooi rugsak wat hy ook tydens ‘n vorige hofverskyning gedra het.

 

Die 43-jarige Mnisi het in ‘n beëdigde verklaring wat voor die hof voorgelees is te kenne gegee dat hy ‘n welbekende sakeman in die gemeenskap is, wat ondermeer ‘n konstruksiemaatskappy genaamd Savimbi Construction in Debonairpark, De Deur besit en 30 werknemers in sy diens het.

Hy besit ook verskeie bates, insluited verskeie voertuie en het ‘n groot gesin.

Hy is getroud en het altesaam nege kinders.

Mnisi is ‘n stoere ANC-lid en is volgens die verklaring ‘n streeksorganiseerder van die ANC in die Sedibeng-streek.

Volgens die verklaring was hy in sy jonger dae ook aktief by die stryd teen apartheid betrokke.

Sy betrokkenheid by die struggle verklaar volgens die beëdigde verklaring dan ook sy kleurvolle misdaadgeskiedenis.

Themba Mnisi praat met sy regsverteenwoordiger, Jaco van Heerden. Foto: Christiaan Cloete

Mnisi se misdaadgeskiedenis spreek van gereelde botsings met die gereg.

Hoewel talle van die aanklagte laat vaar is, of hy vrygespreek of onskuldig bevind is, is hy al ondermeer aangekla van intimidasie, rig van ‘n vuurwapen, verkragting, minagting van die hof, bestuur onder die invloed van alkohol, aanranding, besit van gesteelde eiendom en talle ander misdade aangekla oor die jare.

Hy is wel in 1995 op ‘n aanklag van diefstal skuldig bevind.

In 1999 is hy tot direkte tronkstraf of ‘n boete R600 of 6 maande direkte tronkstraf gevonnis.

Die tronkstraf is in geheel opgeskort. In 2012 is hy op ‘n waarskuwing vrygelaat nadat hy aan opsetlike saakbeskadiging skuldig bevind is.

In 2016 is hy skuldig bevind aan ontvoering. Hiervoor het hy 5 jaar tronkstraf gekry wat in geheel opgeskort is, gekoppel aan korrektiewe toestig.

Mnisi sê in die verklaring die misdade is gepleeg in ‘n wat hy nog jonk was en aktief by die struggle betrokke was.

Adjudant Offisier Wynand Olivier, die Valke se ondersoekbeampte, het in ‘n beëdigde verklaring wat voor die hof voorgelees is tydens die borghaansoek, te kenne gegee dat daar op die dag van Mnisi se inhegtenisname op verskeie selfone beslag gelê is.

Daar word in die verklaring van sewe toestelle gepraat.

Buiten die “Operation Dudula” groep was Mnisi ook op ander WhatsApp-groepe met name soos “Zuma’s Army”, “Zuma Real Activists” en “Liberation Fighters”. Die staat staan borgtog teen.

Die staatsaanklaer Reuben Chabalala het namens die staat aangevoer dat Mnisi ‘n bedreiging vir die veiligheid van die publiek inhou indien hy op borgtog vrygelaat word.

Chabalala het aangevoer dat daar ‘n moontlikheid is dat hy getuies kan beïnvloed of bewyse kan versteek indien borgtog teengestaan word, veral aangesien die staat moontlik nog verdagtes in hegtenis geneem.

Wat dinge erger maak volgens Chabalala is dat daar tans gedreig word met nog plundery wat moontlik op Maandag 23 Augustus kan voorkom.

Mnisi se regsverteenwoordiger, Jaco van Heerden, het van Chabalala verskil en gesê dat die polisie al sy selfone gekonfiskeer het en dat al die bewyse reeds op die WhatsApp groep is en dat Mnisi dis nie met bewyse kan peuter nie.

Van Heerden het gesê dat Mnisi ook bereid is om afstand van sosiale media te doen vir die duur van die saak.

Volgens Van Heerden kom die inhoud van die stemboodskap nie neer op aanhitsing tot geweld nie aangesien dit per defenisie nie as aanhitsing tot geweld kan beskou kan word nie.

Volgens hom is dit op die meeste ‘n dreigement. Van Heerden het ook benadruk dat daar niks van hierdie dreigement gekom het nie.

Die borgaansoek duur voort. Landdros Ziphora Phage het die saak tot Maandag 23 Augustus uitgestel.

Themba Mnisi in die beskuldigdebank. Foto: Christiaan Cloete

Vermeende ‘aanhitser’ praat glo in stemboodskap oor polisievoertuie aan die brand steek | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button