NewsNews

Valke lê beslag op pastoor se wapens

Die direktoraat vir die ondersoek van prioriteitsmisdade (Valke) sê vyf van die vuurwapens waarop daar beslag gelê is tydens onlangse klopjagte by twee persele in Meyerton is wettiglik in die persoon van belang se naam geregistreer.

Daar is vroeër berig dat die persoon ’n plaaslike pastoor is en dat van die wapens glo by ‘n kerk gevind is.

Daar is ook berig dat die persoon die seun van ’n raadslid van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit is.

Die Valke het by navraag benadruk dat die persoon nog van niks aangekla is nie en dat dit in hierdie stadium bloot ’n persoon van belang is met betrekking tot ’n polisieondersoek -en dus nie ’n verdagte nie.

Volgens die Valke se woordvoerder in Gauteng, kapt. Ndivhuwo Mulamu, is die wapens na die polisie se forensiese eenheid geneem vir ballistiese toetse.

Daar is toe bepaal dat vier van die wapens wettiglik geregistreer is onder die persoon van belang se naam.

Die polisie is nog besig om te bepaal of die vyfde vuurwapen ook geregistreer is.

Mulamu het by navraag gesê die saak word tans ondersoek.

“Die saak is sub judice en ons kan in hierdie stadium nie terugvoer gee oor ander bewerings rakende die persoon van belang tot die persoon aangekla is nie,” sê Mulamu.

Daar is ook beweer dat die persoon sy paspoort moes inhandig hangende die ondersoek.

Van die wapens en ammunisie waarop daar beslag gelê is. Foto: Facebook/VAAL TIMES

Valke lê beslag op Meyerton-pastoor se wapens | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button