NewsNews

Beseerde in Slap Chips-aanval veg na 6 maande steeds teen pyn en trauma

“Ek het nog nie mooi besef wat gebeur nie, toe was die BMW bo-op my. Toe ek bykom, was ek in ‘n bondeltjie opgefrommel met twee gebreekte bene, ribbes deur die longe, ‘n gebreekte linkerskouer en ‘n slegte wond aan my kop."

Dit is hierdie week ses maande sedert die skrikwekkende aand van 2 Februarie, toe die 49-jarige Tommy Phalatse met sy BMW X5 by Slap Chips Restaurant se parkeerterrein in Frikkie Meyer-boulevard in Vanderbijlpark ingejaag en wild-en-wakker begin skiet het. In die volgende minute het Phalatse mnr. Lewis Towsen (54) ernstig beseer, die 18-jarige Nathan Hebler in die bors en skouer geskiet, en Nathan se pa, Johan, in die maag gewond.

Nadat hy weggejaag het, het Phalatse ‘n karwag, mnr. Willem Kriel (47), langs die pad in die kop geskiet voordat hy 11 km na die Global-vulstasie in Sharpeville gery het. Daar het hy dramaties uit sy voertuig geklim en homself voor die CCTV-kameras in die kop geskiet.

Die motief vir sy optrede is steeds onbekend.

Nathan en mnr. Kriel het kort na die skietery in die hospitaal gesterf. Mnr. Johan Hebler moes verskeie operasies ondergaan voordat hy uiteindelik ontslaan is.

Mnr. Lewis Towsen, wat ten tyde van die aanval by Slap Chips gewerk het, se lewe het dié aand ook soos handomkeer verander. Hy sal lewenslank die fisiese en emosionele littekens dra. Hy is sedertdien in ‘n rolstoel en is tans weer in die hospitaal na die vierde opvolg-operasie om sy beserings te behandel.

Lewis sê hy het die aand van 2 Februarie omstreeks 19:00 in die parkeerarea met ‘n karwag gesels toe hy die BMW X5 met ‘n groot spoed op hulle sien afpyl het.

“Ek het nog nie mooi besef wat gebeur nie, toe was die BMW bo-op my. Toe ek bykom, was ek in ‘n bondeltjie opgefrommel met twee gebreekte bene, ribbes deur die longe, ‘n gebreekte linkerskouer en ‘n slegte wond aan my kop. Ek kon glad nie beweeg nie. Ek het eers bygekom nadat die mense om my reeds geskiet was. ‘n Verbyganger het net vir my geskree: “Lê stil, oom is deur die been geskiet”.

“Toe hulle Nathan langs my in die ambulans laai, het hy gevra hoekom sy bors so brand. Die ambulansman sê toe vir hom hy is in die bors geskiet. Ek het toe eers regtig besef dat mense geskiet is. Ons is van daar af na Mediclinic Emfuleni geneem. Ek was in ‘n aparte kamer as Nathan en kon sien hoe die dokters heen-en-weer beweeg om sy lewe te probeer red. Om my bed was dit net een plas bloed van my kop- en beenwonde.

“’n Paramedic het in die hospitaal vir my gesê ek is nie geskiet nie, my bene was net baie sleg gebreek en dat daar ‘n diep wond aan my kop was. Hulle het my later die nag per ambulans na die trauma-afdeling van die Netcare Unie-hospitaal geneem. Daar het ek weer bewusteloos geraak en eers weer bygekom nadat ‘n noodoperasie op albei my bene, ribbes, longe en kop gedoen is.”

Na sy ontslag uit die hospitaal was Lewis ‘n verdere twee weke in ‘n rehabilitasie-kliniek voordat hy huis toe is, waar hy sedertdien in ‘n rolstoel is. Na duisende rand se fisioterapie kon hy weer begin om ‘n paar treë met ‘n loopraam te loop. Sy linkerbeen het ongelukkig nie reg aangegroei nie en is verlede Vrydag in ‘n operasie van byna vyf ure ekstern gespalk om dit te probeer regtrek. Die spalk moet vir ses maande aanbly. Die gebreekte regterbeen sukkel ook om aan te groei en is ook weer oopgesny om die beendere te skuur in die hoop dat dit groei sal bevorder. Lewis sterk nog in die Mulbarton  Hospitaal in Johannesburg aan.

Danksy professionele berading gaan dit emosioneel al bietjie beter en die nagmerries word minder, maar die pyn aan sy bene is steeds ondraaglik, sê Lewis. “Emosioneel is my arme vrou ook geknak.”

Hy kon sedert die voorval nie weer werk nie. Hulle het gelukkig ‘n hospitaalplan, maar die mediese uitgawes tel so vinnig op dat hulle tans finansieel in die knyp is. “Ons het ‘n eis by die Padongelukkefonds ingedien, maar almal weet dat dit jare kan neem,” sê hy.

Enigiemand wat die Towsens geldelik wil bystaan, kan ‘n inbetaling doen aan L.L. Towsen, Capitec Bank, Spaarrekening: 1574838278.

Mnr. Lewis Towsen van Vanderbijlpark is sedert die voorval in ‘n rolstoel. Hy is tans weer in die hospitaal vir opvolgoperasies.
Die aanvaller, Tommy Phalatse, wat agterna selfmoord gepleeg het.
Nadat Lewis se linkerbeen die afgelope maande skeef aangegroei het, is ‘n eksterne spalk verlede week tydens ‘n operasie aangebring om die been te probeer regtrek.
Wyle Nathan Hebler (18)
Wyle Willem Kriel (47)

Nog ‘n foto van ‘n besering aan Lewis Towsen se been is hier onder. Sensitiewe lesers word egter gewaarsku dat dit hulle kan ontstel en dat hulle liefs nie moet kyk daarna nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

****************************************************************************************************************

Beseerde in Slap Chips-aanval veg na 6 maande steeds teen pyn en trauma | Vaalweekblad

Related Articles

Back to top button