NewsNews

Bekende atletiek-organiseerder sterf in hospitaal nadat hy van leer af val

Steve Jackson (63), ’n bekende in atletiekkringe, is die naweek in die Netcare Milpark-hospitaal dood nadat hy verlede week van ’n leer af geval en hoofbeserings opgedoen het.

Jackson, ’n afgetrede aanlegbestuurder by ArcelorMittal Suid-Afrika en kranige Comrades- en Ysterman-atleet van Vereeniging, is Woensdag (4 Augusutus 2021) per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem nadat hy by ’n pakhuis van die leer afgeval het.

Hy het bloeding op die brein opgedoen en is sedert Woensdag aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.

Vrydag 6 Augustus is hy breindood verklaar.

Die Vaal Atletiekklub, waarvan Jackson ’n lid was, het in ’n plasing op Facebook hom as ’n “pilaar van die atletiekgemeenskap” en ’n “ware ambassadeur van die klub” beskryf.

“Jou afwesigheid laat ’n groot leemte maar jou nalatenskap en wysheid wat jy oorgedra het sal vir ewig in ons harte bly. Rus in vrede Steve Jackson” lui die boodskap.

Bennie Botha (65), voorsitter van die Vaal Atletiekklub het Jackson se dood as ’n “groot verlies” beskryf.

Hy sê Jackson het veral diep spore in die Vaaldriehoek getrap waar dit by die organisering van plaaslike padwedlope kom.

Hy was wedloopdirekteur van die gewilde Vaal-marathon, wat jaarliks in die eerste week van Maart in Vereeniging plaasvind, en was ook ’n uitvoerende beampte by Atletiek Vaaldriehoek.

Steve Jackson in aksie tydens ‘n ystermankompetisie. Foto: Facebook

Jackson was ook by die organisering van die Vaal River City, ’n betreklik nuwe marathon op die Vaaldriehoek se atletiekkalender, betrokke.

Hy was vir baie jare voorsitter van die Vaal Atletiekklub en was tot onlangs die voorsitter van padwedlope.

Jackson was ook ’n kranige atleet wat altesaam 21 die Comrades-ultramarathons voltooi het.

Hy tussen 1994 en 2017 altesaam 14 bronsmedaljes, ses Vic Clapham-medaljes en een Bill Rowan ingepalm.

Jackson, het in 2016 afgetree as aanlegbestuurder by ArcelorMittal.

Botha onthou hom as iemand wat baie veiligheidsbewus was en vertel dat hy onlangs ArcelorMittal se veiligheidstelsel opgedateer het.

Hy sou in Oktober 64 haar oud geword het.

Volgens Botha sal Jackson selfs ná sy dood mense help omdat hy ’n orgaanskenker was.

Jackson word oorleef deur sy vrou Angela, seuns Peter en Paul en sy skoondogters Maria en Marileen, sowel as sy kelinkinders Jessica, Samuel, Gabriel en Luke.

Related Articles

Back to top button