BlogsNewsNewsOpinions

“Daar is nog ’n hondjie wat se liefde onvoorwaardelik is”

Oud-Parysenaar Jak de Priester skryf:

Met ons trek laasjaar Oktober Kaap toe, kon ek nie glo dat een mens (dis nou ek) verantwoordelik is om soveel goed van een plek na ‘n ander plek te vervoer nie. Jare lank se opgaar. En skielik, wanneer mens die bokse begin pak, raak alles ‘n sentimentele verhaal. Dis dalk die rede hoekom mense sukkel om van iets ontslae te raak. Dis die tyd wat dit in ons lewens verteenwoordig. Ek het bokse gekry met ou Londen tubemaps van die jare toe ek in Londen gewoon het, hotel deurkaarte van Sun City, honderde backstage passes en souvenirs van reg oor die wêreld. Ou leersakke, beursies tot my eerste BOB bankkaart. Jy het die keuse om van alles ontslae te raak, maar voor jy kan sien is alles weer gepak in bokse, gereed om die volgende 20 jaar van jou lewe, jou kaste vol te maak. Die dag toe ons trek, was dit die Groot Trek. Karre, scooters, bokse, plante, beelde, klere, skoene, beddens, banke, tafels, duisende goetertjies, 2 honde, 2 voëls, 3 kinders, 1 vrou. Ek het vir ‘n oomblik gedink. Is dit moontlik dat ek al hierdie dinge gegenireer het?

En so het ‘n nuwe lewe met al ons ou goed begin in die Wes-Kaap. Die twee honde is ouer as die kinders. Elvis was ‘n geskenk van my aan Michelle op Valentysdag 2008, op die dag toe ek my Groen Mamba cd vrygestel het. Elvis se naam was eers Mamba, maar na aanleiding van ‘n liedjie op my cd, getiteld, “Elvis is nie dood” het ons hom later Elvis herdoop.

Lilo, was my skoonma se hondjie wat ons ge-erf het na haar afsterwe. Sy was daardie jare al ouerig. Dalk het sy net ouerig voorgekom, omdat sy ouma Bettie se skoot hondjie was. Die twee het net televisie gekyk en geslaap, heerlik ge-eet en in die son gesit. Beste vriende! So moes arme Lilo aanpas by ‘n besige gesin met avontuurlustige klein kindertjies en twee lawaaimaker kokketiele en ‘n rebelse hond, wat sy naam gestand doen, Elvis. Jare later eindig ons in die Kaap. Nuwe huis. Nuwe omgewing. Dieselfde honde, voëls en kinders. Elvis was 12 jaar oud, maar nog jonk en rebels genoeg om die nuwe lewe in die Kaap met al vier pote te omhels. Die hardloop op die strand was vir hom ‘n nuwe hoogtepunt na sy ingehokte stadslewe in Pretoria. Dalk was dit die lang afstand se ryery, maar Lilo het skielik net oud geraak. Wou nie meer gaan stap nie. Wou nie meer speel nie. Agterlyfie begin sleep. En so het Lilo se dag ook aangebreek. Net soos souvenirs en ou treinkaartjies wat ‘n storie vertel van ‘n tyd in jou lewe, so vertel die hond in jou lewe ook ‘n storie. Michelle het maar moeilik gegroet, dit was nog die laaste asem van herinnering aan Ouma Bettie. Die kinders wou dadelik ‘n nuwe hondjie hê. Asseblief Pappa! Asseblief.…maar ek het nie kans gesien vir nog ‘n groot verandering in ons dag tot dag bestaan nie. Die kinders het gesmeek, maar ek het gedink dat as ek net een lewende wese minder hoef te voer per dag, sal dit al klaar help in hierdie moeilike tye waarin ons leef. Dalk eendag. Die kinders was nie baie gelukkig met my nie. Ek is ‘n wrede pa het hulle gesê. Eendag vertel iemand vir Michelle van ‘n hondjie vir wie ‘n organisasie ‘n aanneem gesin soek. ‘n Morkie. “Wat is ‘n Morkie?” vra ek. “’n Kruis tussen ‘n Maltees en ‘n Yorkie.” Antwoord Michelle. “klink nie reg nie.” Sê ek. “Ek gaan aansoek doen.” Sê Michelle. “Moet mens aansoek doen?” vra ek. “Ja, hulle soek die perfekte huis vir die hondjie… hulle doen huisbesoek en alles.” “Ons kinders is te stout. Gelukkig. Die mense sal in hulle spore omdraai.” Sê ek.

Michelle vul ‘n vorm in op die webtuiste, sonder my goedkeuring of kennis.” ‘n Paar dae later lui Michelle se foon. Sy stap uit die vertrek, maar ek kan steeds hoor wat sy gesels. Sy praat Engels. Dan hoor ek hoe bevestig sy ‘n tyd vir huisbesoek. “Is dit wat ek dink?” vra ek toe Michelle klaar gepraat het. “Ons is een van ‘n moontlike 10 huise wat vir die Morkie aansoek gedoen het.” Sê sy opgewonde. “Hulle kom na ons toe Woensdagoggend 10uur.” “Agnee.” Sê ek. “Dis nie te se ons gaan gekies word nie.” Troos Michelle my. Daardie Woensdagoggend is dit asof die dominee kom huisbesoek doen. Almal maak net huis aan die kant. Michelle steek ‘n vanilla kers aan. Elvis se bed is silwerskoon gemaak. Hy het tot ‘n splinternuwe kosbak. Daar is vars blomme op die tafel. 10 Minute voor 10 toe lyk ons huis silwerskoon. Mija en Michelle het rokke aan, die seuns se hare is netjies in kantpaadjies gekam en kouse opgetrek tot bo. Hulle sit stoepstil op die bank. “Hallo Tannie.” Groet hulle die dame soos sy die huis binne stap. Almal sit in ‘n ry op die bank, tande spierwit geborsel. Michelle praat net die regte woorde. Die kinders ook. Selfs Elvis werk saam. Ek bekyk my eie gesin. Dis soos ander mense. Almal is stroopsoet en ordentlik.

Ek het nog nooit my eie kinders so beleef nie. Selfs ek sou ‘n weeshondjie aan hulle toevertrou. Die vrou vra om ‘n bietjie rond te kyk. “Natuurlik” sê Michelle. Sy moet net nie ‘n kas oopmaak nie, want dan val daar dalk opgestapelde goed of vuil tekkies uit. Sy bestudeer alles om die huis. Die hoogte van die heining. Alles. Amper ‘n uur later groet sy ons. Ek kan sien my kinders kan nie ‘n minuut langer so beleefd voorgee nie. Die ware streke wil-wil na vore kom. Ek lag in my mou. Die dame klim in haar motor. “Ons besoek nog ‘n gesin in Stellenbosch en een in Villiersdorp, daarna sal ons ‘n besluit neem en jul laat weet.” Groet sy. Toe sy weg is, verval almal dadelik weer in hul slegte gewoontes en dis nie 10 minute nie, toe is alles weer deurmekaar en die kinders het ander klere aangetrek. “Hulle gaan die hond vir julle gee.” Sê ek. “Nee wat…” sê Michelle. Die dame het genoem dat die Stellenbosch gesin alreeds ‘n ander Morkie het.” Troos sy haarself. “Wel, my gesin het hul beste voetjie voorgesit, te pragtig met die kantpaadjie-hare en al en die glimlaggies. Hallo Tannie, ja Tannie, Nee Tannie.” Te oulik. As sy maar weet! Die dag lui die foon. Michelle antwoord. “Really? That is excellent news. The kids will be so happy to hear.” “Hulle het ons gekies!” sê Michelle toe sy die foon neersit. “Ek het jou gesê.” Antwoord ek sonder enige opgewondenheid in my stem. Die kinders was in ekstase. Daarna het die proses begin. Hulle het die volgende dag vir “Annie” na ons huis toe gebring. Sy was verward. Het van een kant in die erf na ‘n ander kant gehardloop. Sy’t ‘n paar tande gewys vir Elvis en wou op niemand se skoot sit nie. As ons die hek sou oopmaak, sou sy weghardloop en ons sal haar nooit weer sien nie. “Ons gee julle ‘n week. Indien sy nie aanpas nie, sal ons haar weet kom oplaai en ‘n ander huis probeer.” Groet die vrou en klim in die motor. Annie wou niks weet nie. Sy het gegrom vir al wat verby loop. Sy was koud en vreesbevange. Sy was wild. “Wat nou gemaak?” vra ek.

“Gee net kans.” Sê Michelle. Dae het verby gegaan. Weke… ‘n Maand. Annie het saam gaan stap op die strand. Sy en Jamie het ver gaan hardloop in die see. Stadig maar seker het Annie rustiger geword, haar wilde oë sagter. Sy het soos ‘n jong meisie haar boude voor Elvis begin swaai. Elvis het skielik ook ‘n bietjie lewe begin kry so op sy ou dag. En soos wat die somer in herfs verander het en die herfs in winter, het Annie ook verander. Miskien ek ook. Ses maande later, wil ons nêrens meer heen gaan sonder Annie nie. Sy is die kinders se grootste maatjie. Sy hardloop op die strand, Sy klim onder die komberse in saans as ons gaan slaap. Wanneer ek tuis kom van êrens af, is sy so ongelooflik bly om my te sien. En ek vir haar. Sy wikkel haar lyf van vreugde en opgewondenheid en liefde.

En net so het ons ‘n nuwe lid in ons “crazy” gesin gekry, wat ‘n nuwe era verteenwoordig. Ons volgende fase in die Wes-Kaap. Die weeshondjie het nuwe kleur in ons lewens gebring. Ek dink Annie se vorige lewe was nie rooskleurig nie, vir lank was sy skugter vir ‘n manlike figuur. Sy was bang vir my. Maar hier waar ek sit en skryf lê sy met haar mooi gesiggie op my skoot, haar snoet ingedruk in my warm trui “true love” ek en Annie. Annie het dit nodig gehad… en ek…wel, ek het vir Annie nodig gehad. In hierdie vreemde tye waarin ons leef met pandemies en verwoesting en finansïele onsekerhede, is daar altyd nog ‘n hondjie wat se liefde onvoorwaardelik is. ‘n Troeteldier wat nie bewus is van alles wat in die wêreld aangaan nie, maar wat sy of haar stertjie swaai wanneer ons by die huis aankom. In Moeilike en in goeie tye. En daarom drink ek vandag ‘n koppie tee op daardie vroue wat elke dag sorg dat ‘n weeshondjie die regte huis kry.’n Koppie tee op hulle wat kyk na die welsyn van diere in die wêreld. En op jou wat ‘n goeie huis bied vir ‘n kwesbare troeteldier.

Tot volgende keer

“Daar is nog ’n hondjie wat se liefde onvoorwaardelik is” | Parys Gazette

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button