NewsNews

Virus eis geliefde inwoner van Midvaal

“Meyerton is vandag in skok en in rou! So bitter jonk is jy deur hierdie aaklige virus weggeneem. Rus sag, Sebastian!”

“Meyerton is vandag in skok en in rou! So bitter jonk is jy deur hierdie aaklige virus weggeneem. Rus sag, Sebastian!” Só lui een van die honderde hartseer boodskappe op Facebook na die afsterwe van Sebastian Jonker (36), een van die dorp se geliefde inwoners, wat verlede week aan Covid-19 beswyk het.Sebastian of Bassie, soos hy onder sy vriende bekendgestaan het, het in Meyerton grootgeword en aan Hoërskool Dr. Malan skoolgegaan. Hy was ‘n professionele jagter en bestuurder van Segodi Game Lodge tussen Thabazimbi en Ellisras voordat hy twee jaar gelede na Meyerton teruggekeer het, waar hy by ‘n familie-onderneming betrokke was.Van sy talle vriende het die afgelope week op Facebook gesê dat hy nie net baie aantreklik en sjarmant van buite was nie, maar ook innerlik ‘n pragtige mens met ‘n besonder aangename persoonlikheid was. Hy was ook diep gelowig. “Bassie was ‘n liefdevolle, betroubare mens en die lojaalste vriend wat ek al ooit gehad het. Hy het net voor sy dood vir my en my gesin gebid en so baie vir ons beteken,” sê ‘n gemeentevriend, wat tans self teen Covid-19 veg.

 

Bassie se vrou, Tania, sê haar man het inderdaad ‘n baie sagte hart gehad en sou sy eie geluk opoffer ter wille van ander. “Hy was so lief vir my en ons dogtertjie. Hy het ons almal gedra. Hy is een van die goeies wat deur die virus weggeneem is.” Sy sê Bassie het hom op Dinsdag, 29 Junie, vir Covid laat toets en sy uitslae die volgende dag gekry. “Ons het die Donderdag al begin bel vir ‘n bed in ‘n hospitaal vir hom en my skoonouers, maar daar was niks beskikbaar nie. Ons besluit toe om vir elkeen ‘n suurstofmasjien te koop om hulle te help totdat ons beddens kon kry. “Ons het tot ‘n suster van Frankfort af deurgebring om hulle op ‘n drip te sit. Die Maandag, toe dinge baie sleg begin gaan het, het ek hom ongevalle toe geneem want dan móés hulle hom help,” sê Tania, wat self ook Covid-19 opgedoen het. “Hy was in baie pyn en sy suurstoftelling was net 33% toe ons by die hospitaal aankom. Sy longe was deurtrek van die infeksie en sy bloedklonttelling was ook ontsettend hoog. Ek is huis toe, en die hospitaal het my net voor 04:00 die oggend gebel met die nuus dat dit baie sleg gaan. Ek is dadelik terug hospitaal toe, waar die dokter my ingelig het dat my man dit nie gemaak het nie.” Bassie was die seun van die bekende plaaslike egpaar, George en Hester Jonker. Mnr. Jonker snr. is ‘n konsultant by die menslike hulpbronne-onderneming Jonker Van Wyk & Vennote in Midvaal. Albei Bassie se ouers is uiteindelik ook met Covid-19 in die hospitaal opgeneem. Mev. Jonker is Maandag ontslaan, maar mnr. Jonker was teen die Herald se susterskoerant Vaalweekblad se saktyd nog in ‘n ernstige toestand in ‘n hospitaal in Bethlehem – die enigste plek waar daar ‘n bed beskikbaar was. “Ons bid lewe oor my skoonpa en glo dat hy gaan herstel,” sê Tania. * Bassie word buiten sy gesin en ouers ook oorleef deur sy suster, Marlize, en broer, Petriann, met wie hy ‘n baie hegte verhouding gehad het.  

Wyle Sebastian saam met sy pa, mnr. George Jonker.
Wyle Sebastian saam met sy ouers, Hester en George Jonker.
Bassie was saam met die sanger Juan Boucher op skool en het soms nog saamgekuier. Volgens Juan het hulle in die aande tydens hul kuiers op die Bosveldplaas waar Bassie gewerk het, om die kampvuur gesit en musiek op die kitaar gemaak.
Wyle Sebastian Jonker (36) word oorleef deur sy vrou, Tania, en dogtertjie, Shidelle (21 maande).

Virus eis geliefde inwoner van Midvaal | Vaalweekblad

 

Related Articles

Back to top button