NewsNews

Die letsels wat oorbly na ‘n plaasaanval – Midvaal-boer vertel

"'n Boer moet aan sy familie, diere en werkers dink - almal saam is die ritme waarmee sy hart klop."

Deur videofotograaf Pierre Wheeler
Ons almal weet teen dié tyd van boer Corné wat al sy bale voer verloor het tydens ‘n aanval op hulle plaas Silwer Eike net buite Henley-on-Klip, Midvaal, op 20 Junie 2021. ‘n Mens kan jouself maklik  die finansiële skade en hartseer indink wat met so ‘n aanval gepaard gaan. In sulke tye kan ‘n mens ‘n slagoffer vergewe as hy gaan lê en hom moedeloos oorgee aan sy lot.

Dit is wel nie die geval met boer Corné nie. Die dag toe ek hom bel met ‘n finansiële donasie wat ‘n onbekende persoon wil maak, toe verduidelik Corné: “Op dié stadium sal ek enige voer vat sodat my diere net kan eet, en ek sal tot self gras gaan sny waar ek kan om so voer bymekaar te maak – maar my pa sal my nooit vergewe as ek geld vat nie. Daar is baie boere met wie dit nog swaarder gaan as met my. Gee Boeredroogtehulp-SA se bankbesonderhede as jy sulke donasies kry want hulle doen goeie werk en sal dit gebruik om ander boere ook te help”.

En dit is hier waar daar hoop bestaan as gevolg van boer Corné, nie net vir die ander boere wat moontlik gehelp kan word nie maar by my as buitestaander self. Want ek sien met my eie oë hoe ‘n persoon kan sterk staan te midde van baie moeilike omstandighede.

Hoekom is die een interaksie met Corné vir my so indrukwekkend? Omdat ‘n mens altyd in gedagte moet hou: ‘n Boer moet aan sy familie, diere en werkers dink – almal saam is die ritme waarmee sy hart klop. Wanneer ‘n boer gaan lê en opgee is dit meer as net hy wat ondergaan. Maar wanneer ‘n boer opstaan, sterkstaan en werk aan ‘n plan om bo uit te kom, skep dit hoop by dié wat afhanklik is van hom – want môre sal dinge weer beter gaan.

Ek het ‘n video-storie gedoen oor boer Corné want ek wou graag aan kykers wys wat aangaan na so ‘n aanval en waar sy hartklop lê as dit kom by sy diere, familie en werkers. Ek het hom die dag onkant gevang en hy het nie vooraf geweet van my kamera en vrae nie. So dit wat die kyker sien, is eerlike en opregte emosies en antwoorde. Dit gee ons almal ‘n kans om agter die skerms te sien.

Kyk hier na die video:

https://vaalweekblad.com/100174/die-letsels-wat-oorbly-na-n-plaasaanval-midvaal-boer-vertel/?fbclid=IwAR0j6eOE-1ZR460DGL5lUtcEfkuNCfAN9yVkOrp3CqdoYspdwtfXMJ2TOQ8

 

Related Articles

Back to top button