NewsNews

‘n Laaste groet aan ‘sonskynkind’

Die skool het intussen traumaberading gereël vir kinders wat die ongeluk gesien gebeur het.

Kinders op die skoolbus na die Northdene-hoewes by Vanderbijlpark het Vrydagmiddag, 18 Junie, opgewonde uitgesien na die naweek wat voorlê. Minute later moes hulle geskok toekyk hoe hul skoolmaat, Maria Bosch (15), noodlottig deur ‘n voertuig getref word net nadat sy van die bus afgeklim het.

“Ons weet nie presies wat gebeur het nie. Die bus het voor ons huis gestop om kinders af te laai.

“Pas nadat dit weggetrek het, het Maria oor die pad gestap toe ‘n bakkie haar volspoed getref en sowat 60 meter ver geslinger het,” vertel haar getraumatiseerde peetma, mev. Corrie Pretorius, by wie Maria en haar suster, Bernice, ingewoon het.

“Die ongeluk het reg oorkant ons huis gebeur. Die kinders het my dadelik kom roep en ek en my man het na Maria toe gehardloop,” sê Corrie. Sy en ander omstanders het onmiddellik noodbehandeling begin toepas maar dit was vergeefs. Die mooi tiener, wat deur haar onderwysers as ‘n sonskynkind met ‘n warm, sprankelende persoonlikheid beskryf word, het op die toneel gesterf.

Die geskokte vroulike bestuurder van die bakkie het ‘n ent van die toneel af stilgehou.

“Sommige mense het op Facebook gesê die dame wou wegry maar dit is nie waar nie. Sy het heeltyd op die toneel gebly en het net in ‘n stadium in haar bakkie gaan sit, wat omstanders dalk kon laat dink het dat sy wou ry,” sê Corrie.

Maria was ‘n leerling van Die Ankerskool in Vanderbijlpark, waar sy besonder gewild onder haar maats was. Die skool sê in ‘n huldeblyk dat haar nalatenskap diep in die personeel en leerlinge se harte gekoester sal word. Hulle beskryf haar as “dierbaar, hardwerkend, bereidwillig, altyd sprankelend en pragtig – ‘n sonskynkind”.

Die skool het intussen traumaberading gereël vir die kinders wat die ongeluk gesien gebeur het.

Corrie sê Maria was altyd besig met kreatiewe planne. “Sy was lief daarvoor om haar klere te kleur en te verander, soos om rokkies in rompe of bloese te verander. Sy het baie belanggestel in modelwerk en sou volgende jaar daarmee begin het.”

‘n Opelug-troosdiens is Vrydag in die Pretorius-gesin se tuin gehou. Leerlinge van Maria se skool het ‘n groot kruis wat ter nagedagtenis aan haar gemaak is, oorkant die plek ingeplant waar sy gesterf het, en dit met blomme en teddiebere versier.

Die Pretorius-egpaar en Maria se familie sê hulle is sedert die tragedie oorweldig deur die gemeenskap se hulp en ondersteuning. Lede van die Vryheidsfront Plus en die Mullerstuine-buurtwag sowel as mense uit die publiek het hulle byvoorbeeld die hele tyd op die ongelukstoneel bygestaan. Die naasbestaandes bedank ook die Bet-El Gemeente en al die instansies en sakeondernemings wat op verskeie maniere bygedra het om hulle in dié hartseertyd te onderskraag.

Wyle Maria Bosch
Skoolmaats en personeel van Die Ankerskool het ‘n groot kruis opgerig oorkant die plek waar Maria op 18 Junie gesterf het.

‘n Laaste groet aan ‘sonskynkind’

Related Articles

Back to top button