NewsNews

Twee Puk-studente verongeluk oppad na hul ouerhuise

“Dit was ‘n besondere hartseer naweek vir die universiteit met die twee jong mense wat op so ‘n tragiese wyse dood is”, sê dr. Corrie Rheeder, direkteur van studentelewe aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroomkampus.

“Dit was ‘n besondere hartseer naweek vir die universiteit met die twee jong mense wat op so ‘n tragiese wyse dood is”, sê dr. Corrie Rheeder, direkteur van studentelewe aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroomkampus.

Johann (Bishops) Müller (20) en Vuyokaze Dlamini (19), was Saterdag (26 Junie) van hulle koshuise na hul ouerhuise oppad toe hulle verlongeluk het.

Johann, ‘n tweedejaar student in forensiese rekenmeesterskap, was oppad na sy ouerhuis in Ladismith in die Wes-Kaap toe hy teen ‘n vragmotor gebots het. Die ongeluk het tussen 5:00 en 6:00 op die N12-hoofweg naby Wolmaransstad gebeur.

Lizanne Müller, Johann se oudste suster, sê hy wou vir niemand vooraf sê wanneer hy huis toe gaan nie.

“Hy het my eers Vrydag gebel om te sê hy ry die volgende dag. Hy wou my ouers verras. Hy sou my oppad skakel dat ek vir hom geld kon oorplaas om brandstof in te gooi. Ek het op sy oproep gewag en bekommerd geword toe hy my nie bel nie,” sê Lizanne.

Sy het later by sy vriende gehoor dat hy reeds 4:00 die oggend van Over-de-Voor-manskoshuis vertrek het.

Volgens dr. Rheeder was Vuyokazi Dlamini ‘n eerstejaar grondslagfase onderwysstudent wat in Eikenhof-dameskoshuis gebly het. Sy was tydens die botsing in Gauteng saam met ander passasiers in ‘n voertuig toe die ongeluk plaasgevind het. Die Herald kon ongelukkig nie vasstel wat die welstand van die ander passasiers is nie. Rheeders het gesê die familie is baie privaat en wil nie graag met die media praat nie. ‘n HK-lid van Eikenhof dameskoshuis getuig dat Dlamini ‘n besondere liefdevolle en sonnige persoonlikheid gehad het.

“As jy ‘n af dag gehad het en jy het met Vuyokaze gesels, het jy sommer beter gevoel,” het die HK-lid gesê.

Die baie huldeblyke op Over-de-Voor se Facebookblad getuig dat Johann ‘n talentvolle en gelowige jong man was.

Tessa Smit skryf: “Hierdie seun, Johann Muller, laat ‘n mooi getuienis agter en dit is dat hy Jesus gedien het. Hy sal in vrede rus want hy het aangekom in sy hemelse paradys!…

Lizaan Snyman skryf: “Ja, Johan was ‘n goeie sportman, leier en seun. Dis baie, baie hartseer!”

Lizanne sê haar broer was van kleins af ‘n skrander seun wat besondere leierskapeienskappe getoon het. Hy was besonder lief vir krieket en was krieketkaptein van sy skoolspanne, hoofseun by die skool en onderhoofseun van die koshuis by Langenhoven Gimnasium in Oudtshoorn. Hy het ook vir sy koshuis krieket gespeel.

“Johann se dood is vir die hele familie verskriklik erg”, sê Lizanne. Sy beskryf hom as iemand wat ‘n bok vir sports was, maar dat sy hom veral sal onthou vir sy standvastigheid, pligsgetrouheid en gedissiplineerdheid.

Johann word oorleef deur sy ouers, Gert en Anna, asook sy susters, Lizanne Müller en Christa Nieuwoudt.

Volgens Lizanne word sy begrafnisreëlings nog nie getref nie omdat haar ouers eers vandag van die Weskus oppad is na Klerkdorp om hul seun se lyk uit te ken.

https://potchefstroomherald.co.za/89394/twee-puk-studente-verongeluk-oppad-na-hul-ouerhuise/

Related Articles

Back to top button