NewsNews

Randfontein-rioolklagte: Lasbrief vir munisipale bestuurder uitgereik

Randfontein-rioolklagte: Lasbrief vir munisipale bestuurder uitgereik

’n Lasbrief is op 23 Junie 2021 in die Landdroshof in Randfontein uitgereik vir die inhegtenisname van Themba Goba, die munisipale bestuurder van die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit, nadat hy versuim het om in die hof te verskyn. In 2016 het AfriForum ’n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurder van Randfontein aanhangig gemaak in verband met rioolbesoedeling. Ná vertragingstaktieke deur die munisipale bestuurder se regspan het die Landdroshof in Randfontein Woensdag bevind dat die saak nie verder uitgestel kan word nie. Die saak is nou gereed om op verhoor te gaan.

Die saak is tot 29 Julie 2021 uitgestel. “Dié verwikkeling is vir AfriForum se Randfontein-tak beslis ’n stap in die regte rigting. Ons verwelkom die landdros se beslissing,” sê Matiam van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Randfontein-tak.

“Hierdie kwessie is van kardinale belang vir AfriForum. Dit kan die begin wees vir baie oplossings in munisipaliteite wat bloot net nie meer omgee oor die besoedeling van riviere nie. Daar is ’n laksheid onder munisipaliteite omdat hulle weet daar is geen nagevolge vir hul wanbestuur nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

“AfriForum hoop dat die munisipale bestuurder vir minagting van die hof verantwoordelik gehou sal word. Dit is ’n tendens wat al meer kop begin uitsteek: Amptenare daag nie vir hofsake op nie. Die uitspraak bewys dat amptenare nie bo die reg verhewe is nie,” sê Stephanus Blignault, distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

 

Related Articles

Back to top button