NewsNews

Hennie en sy honde benodig hulp

Hy kry net 'n SASSA pensioen en bly in 'n karavaan op 'n plot sonder lopende water of elektrisiteit, maar sy honde is almal gesond, gevoed en gelukkig.

VANDERBIJLPARK. – Hennie Cronjé (65) se hart klop warm vir alle diere, maar veral honde. Hy het 14 honde. Elke hond het ‘n storie, van Pienkie Poenk, ‘n bokkie hondjie wat ‘n susterskind van hom agt jaar gelede uit ‘n asblik gered het, tot by drie van die groter honde wat iemand sommer net langs die grootpad afgelaai het.

Hennie en Pienkie Poenk wat sy susterskind 8 jaar gelede in ‘n asblik gekry het. Vandag is hy en sy bokkie hondjie onafskeidbaar.

In Hennie se hart is daar plek vir elkeen. Alhoewel hy slegs ‘n SASSA pensioen kry, koop hy getrou elke maand eerste vir die honde hul 10 sakke hondekos by Vaal Pets.

Dan is daar nog die drie wilde katte ook wat maandeliks hul sak kos kry. Hennie en sy honde woon op iemand anders se kleinhoewe buite Vanderbijlpark. Op die stukkie aarde staan daar ‘n ou karavaan waar hy en 12 van die kleiner honde slaap en dan agter die karavaan is daar ‘n sinkhuisie waar die twee groter honde slaap.

Die groter honde, Lummel en Ouvrou, baklei met die kleiner honde so hy hou hulle uitmekaar. Dis ‘n hele gedoente om seker te maak almal kry genoeg oefen tyd in die son.

Die heining om die lappie grond is geroes en staan heeltemal skeef nadat die spruit afgekom het op 16 Januarie. Hennie het nie elektrisiteit nie, ook nie eens ‘n put toilet nie.

“Ek gebruik maar die emmerstelsel en dan het ek my primus stofie en ‘n sinkbad. Vat my so 2 na 3 ure om genoeg water te kook om te kan bad. Is koud in die winter, maar is okay,” praat hy dit weg.

Augustus sal dit vyf jaar wees wat hy en sy honde daar bly. Solank sy honde net versorg is, is hy tevrede. Danielle van Rooyen van Vaal Pets sê sy help waar sy kan. Die meeste van die honde het sy nou al laat steriliseer. Die laaste drie word binnekort gedoen.

Vaal Pets het ‘n projek geloods om Hennie en sy viervoet-familie verder te help deur, onder andere, ‘n beter heining op te sit, en ‘n afsonderlike kamp te bou vir die twee groter honde.

Enige besigheid of individu wat dalk kan help met die heining of wat kan planne beraam hoe Hennie sonpaneel-ligte, of ‘n gas geser kan kry, kan vir Danielle skakel by 082 650 6011.

Hennie en sy honde benodig hulp

Related Articles

Back to top button