NewsNews

Harde slag vir diereregte na Modise-hofsaak laat vaar is

Thandi Modise is Vrydag (30 April) van al ses die aanklagtes van dieremishandeling en -verwaarlosing in die Potchefstroomse streekhof vrygespreek. Dit nadat landdros Ben Mtebele ten gunste van Dali Mpofu, Thandi Modise se advokaat, se aansoek om ontslag, gestem het.

Thandi Modise is Vrydag (30 April) van al ses die aanklagtes van dieremishandeling en -verwaarlosing in die Potchefstroomse streekhof vrygespreek. Dit nadat landdros Ben Mtebele ten gunste van Dali Mpofu, Thandi Modise se advokaat, se aansoek om ontslag, gestem het.

Mpofu het volgens Artikel 174 aangevoer dat daar nie genoeg bewyse was dat Modise direk by die verwaarlosing van haar diere betrek kon word nie. Die burgerregte organisasie, AfriForum het Thandi Modise namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), privaat vervolg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag destyds besluit het om dit nie te doen nie.

Die NDBV het gister in ʼn verklaring gesê dat hulle baie teleurgesteld is. “Dit is ʼn algehele bespotting van die geregtigheid vir die diere wat gely het en onder aaklige omstandighede gevrek het, maar ons gaan glad nie opgee nie. Ons is baie dank verskuldig aan advokaat Gerrie Nel en AfriForum se regspan wat met die privaatvervolging gehelp het”, het Marcelle Meredith, die uitvoerende direkteur van die NDBV, Vrydag gesê.

Adv. Gerrie Nel en lede van die NDBV in die Potchefstroom streekhof tydens ‘n pouse. Van links is Keshu Nair (inspekteur), Nazareth Appalsamy (senior inspekteur), adv. Gerrie Nel, Andrew Leask (hoofondersoeker van AfriForum se privaatvervolgingseenheid), Marcelle Meredith (direkteur NDBV) en Mpho Mokoena (inspekteur). Foto: Venessa van der Westhuizen

Adrew Leask, hoofondersoeker van die privaatvervolgingseenheid van AfriForum, het ook sy teleurstelling uitgespreek en gesê dat hulle op die uitspraak gaan appelleer. In Junie 2014 is meer as 147 varke, meer as 59 skape, meer as 11 lammers en meer as 25 hoenders en ganse uitgeteer en in ʼn haglike toestand op Modise se plaas gevind, waarna 224 diere later uitgesit moes word.

Modise se advokaat het erken dat die diere op haar plaas gely en gevrek het, maar voer aan dat kos wel afgelewer was en het die skuld direk op die twee plaaswerkers, ene Shadrack en Tebogo Mokaedi geplaas wat na die diere moes omsien. Shadrack het die diere versorg voor Tebogo in Meimaand 2014 by hom oorgeneem het. Tebogo het Woensdag in die hof getuig dat hy R30 per dag betaal sou word maar het nooit enige salaris ontvang nie en het die plaas verlaat nadat hyself honger gely het.

Wendy Tsware, die voormalige sekretaresse van Modise, toe sy die premier van die Noordwes was, het Tebogo eenmalig R200 vir kruideniersware betaal toe hy op die plaas aangekom het. Wendy was die persoon wat gereel het dat kos afgelewer moes word. Tebogo het nooit Modise self ontmoet nie.

Mpofu se argument dat Modise nie op die plaas was ten tye van die dierevrektes en lyding nie, of enigsins daarvan bewus was nie, was juis die argument wat AfriForum se regspan gebruik het om aan te dui dat sy doelbewus haar diere verwaarloos en mishandel het.

Adv. Gerrie Nel het aangevoer dat die plaas Modderfontein aan Modise behoort het en dat sy geweet het daar was diere op die plaas wat versorging nodig het. Die regspan het bewys gelewer dat Modise nie op die plaas self gebly het of die plaas besoek het in die twee maande voor die diere in hulle haglike toestand gevind is nie.

Adv. Nel het benadruk dat hoewel Modise self nie op die plaas was nie, sy niemand aangestel het om die diere namens haar te versorg nie en daardeur die plaas verlate en verwaarloos gelos het. Die feit dat sy nie geweet het hoeveel diere sy het, nooit haar plaaswerker, Tebogo ontmoet of hom betaal het nie, het volgens die regspan bewys dat sy nie die plaas bestuur het nie. “Ons voer aan dat dit die swakste voorbeeld is van plaasbestuur wat ons nog teëgekom het”, het Nel in die hof gesê.

Volgens Nel was Ferdie van Aswegen se onbetwisbare getuienis in Desember 2020  ʼn duidelike bewys dat die verwaarlosing van die diere al plaasgevind het voordat Tebogo op die plaas begin werk het. Van Aswegen, ʼn dierevoedingkundige wat vir Meadow Feeds gewerk het toe Modise varkvoer by hulle bestel het, het getuig dat hy Modise se plaas besoek het om te kontroleer dat voer korrek afgelewer was.

Van Aswegen was “geskok en hartseer” toe hy in November 2013 Modise se plaas besoek het. Hy het getuig dat varke toe al uitgeteer was en aan ander dooie varke se karkasse gevreet het. Hy het toe vir Patrick Chauke, hoof van protokol in die Noordwes regering, in die hande probeer kry omdat hy die voer vir die plaas bestel het. Hy kon geen antwoord kry nie en het Naudé Pienaar (adjunk-hoofbestuurder van Agri Noordwes) gekontak om die boodskap aan Chauke oor te dra dat die voer die varke net twee weke sou dra en dat meer voer aangekoop moet word.

Adv. Nel het bewys gelewer dat die voeding wat die diere gekry het nie genoeg was nie. Hy het ʼn opsomming verskaf met datums en die hoeveelheid voer wat by Hinterland bestel was. Volgens Van Aswegen se berekening ten opsigte van die hoeveelheid diere op die plaas en die hoeveelheid kos wat afgelewer was, was daar elke keer te min kos afgelewer. Dit het beteken dat die diere vir etlike dae sonder kos moes klaarkom voordat die volgende sakke voer weer afgelewer was. Wanneer die som van al die dae (van 19 November tot 15 Junie) wat die diere nie kos gekry het nie bymekaar getel word, het dit neergekom op 118 dae wat die diere honger gely het.

Die berekenings van die hoeveelheid kos en datums van aflewering het ooreengestem met die tyd waarop die kos opgeraak het toe Tebogo vir die tweede keer kos aangevra het. Adv. Nel het aangevoer dat Tebogo se teenwoordigheid op die plaas niks te doen gehad het met die sterftes van die diere nie omdat die diere te min kos gekry het. “Selfs al het Tebogo op die plaas aangebly sou die diere steeds gevrek het omdat hulle nie genoeg kos gekry het nie”, het Nel geargumenteer.

Adv. Nel het verder gesê dat Modise nooit haar plaas besoek of in die tydperk na die toestand van die diere verneem het nie, kom daarop neer dat sy haar moedswillig blind gehou het vir die kondisies op die plaas.

Adv. Mpofu het deurgaans aangevoer dat die saak teen Modise polities gemotiveer was. Modise was self baie verlig na die saak afgelas is en het haar ondersteuners in die hof omhels. Sy het ook aan Netwerk24 erken dat sy op haar plaas naby Potchefstroom sal voortgaan om te boer en ʼn sukses daarvan sal maak, maar dat sy nooit ʼn wit mens sal aanstel om haar plaas te bestuur nie.

Daar het groot blydskap onder ANC en EFF ondersteuners in die hofsaal geheers. Hier omhels Modise een van haar ondersteuners. Foto: Venessa van der Westhuizen

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, die familieboerorganisasie, het gesê die afloop van die saak teen Modise skep groot verwarring in die landbousektor oor waar die aanspreeklikheid en verantwoordelikheid van veeboere ten opsig van dierewelsyn lê. “Daar heers ook kommer dat dit  Suid-Afrika in die internasionale mark … reputasieskade kan laat ly wat die bedryf onberekenbare skade kan berokken”, het De Jager gesê.

Related Articles

Back to top button