NewsNewsSportSport

NWU te sterk vir UWK met bonuspunt-oorwinning

Die NWU slot, Jeandré Leonard, is as die speler van die wedstryd aangewys.

Die Noordwes Universiteit (NWU) het die nodige gedoen om vanmiddag (Donderdag, 22 April) teen die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) met ‘n 28-15 bonuspunt-oorwinning van die veld af te stap. In hierdie eerste Varsitybekerkragmeting van die tweede rondte na ‘n ruskans vir altwee spanne, het die NWU die oorhand van die begin af gehad.

Dit was natuurlik niemand anders as die NWU se driemasjien, haker, Gustav du Rand, wat weer eens die doellyn oorgesteek het. Dit was Du Rand se sesde drie in vanjaar se kompetisie.

Al het die UWK met ‘n strafskop op die bord gekom het die NWU hulle poging vergroot toe die speler van die wedstryd, die slot, Jeandré Leonard, in die hoek oorduik vir sy eerste drie van vanjaar se kompetisie.

Dit was weer Du Rand wat in die aksie was met sy puik aangee wat Leonard sy drie bewerkstellig het.

‘n Strafdoel van NWU losskakel, Keagan Fortune, het die telling na 13-3 in sy span se guns teen half-tyd geplaas.

Foto’s: Christiaan Kotze/SASPA

Die agtsteman, André Fouché het sy goeie vorm vir André Pretorius se manne voortgesit en ook ‘n drie gaan druk na halftyd om die gaping na 20-6 te skuif.

Die gevaarlike agterlyn van UWK het nie tou opgegooi nie en ‘n skouspelagtige sewepuntdrie van linkervleuel, Lundi Msenge sowel as ‘n doelskop van Branden de Kock het weer vir UWK ‘n kans gegee met die telling 20-15.

Die NWU se linkervleuel, Charl Pretorius het wel ‘n stokkie vir enige UWK-terugvegpoging gedruk toe hy sy span se welverdiende bonuspuntdrie in die 71ste minuut druk.

Nog ‘n strafskop van Fortune het glans op die vertoning gesit. Die NWU speel komende Dinsdag, 27 April teen Maties in ‘n titaniese stryd wat om 19:00 begin.

NWU: 28 (13) Driee: Gustav du Rand, Jeandré Leonard, André Fouché, Charl Pretorius

Strafskoppe: Keagan Fortune (2)

Doelskoppe: Keagan Fortune

UWK: 15 (3) Driee: Lundi Msenge

Doelskoppe: Branden de Kock

Strafskoppe: Branden de Kock (2)

Related Articles

Back to top button