NewsNewsSportSport

Carletonville se vegters seëvier

Vegters van die XKT Fight St MMA klub in Carletonville het verlede naweek uitstekend tydens hul nasionale kampioenskappe presteer.

Sewe van dié klub se lede het van 8 tot 11 April aan die nasionale gemengde Oosterse gevegskuns (mixed martial arts) kampioenskappe in Edenvale deelgeneem.

Hulle was deel van die Wes Gauteng-span.

Volgens die klub se afrigter, Shihan Chimmy van Winkel, is dié byeenkoms vir die eerste keer oor drie dae gehou om te verseker dat die groep deelnemers wat elke dag bymekaar gekom het, so klein as moontlik was om die oordrag van Covid-19 te beperk.

Al die deelnemers is ook voortdurend vir moontlike tekens van die siekte nagegaan en die ring waarin hulle geveg het, is ook na elke geveg gestoom en skoongevee om dit teen die siekte te ontsmet. Van Winkel is ook die afrigter van die provinsiale “MMA” en skopboks spanne.

Na afloop van die naweek se gevegte het ses van die sewe Carletonvillers goue medaljes ingepalm. RJ Fourie, CJ Fourie, Carissa Botha, Zulu Mngoma, Kenneth Golden en Dillan van Graan het dié prestasie behaal ná hulle oor hul teenstanders geseëvier het. Zander Jansen van Rensburg het ‘n vierde plek ingepalm.

“Die kampioene het nie net gewys dat hulle baie goed kan veg nie, maar ook dat hulle die vaardighede wat hulle in stoei, BJJ (Brazilian Jiu-Jitsu), boks en skopboks geleer het, goed kan gebruik. Die perke van wat hulle kan doen, is behoorlik getoets,” sê Van Winkel.

Meer as 200 vegters van Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en Noord-Kaap het aan die kampioenskappe deelgeneem.

RJ, CJ, Kenneth en Dillan is nou deel van die nasionale jeugspan wat van 30 Julie tot 1 Augustus aan die Jeug Wêreldkampioenskap in Turkye gaan deelneem. Carissa en Zulu gaan as deel van die nasionale junior- en seniorspan van 27 November tot 5 Desember aan die wêreldkampioenskappe in Kazakhstan deelneem.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button