NewsNews

Carletonville se Ratels presteer

Lede van die Ratel Stoeiklub in Carletonville het die afgelope naweek tydens ‘n groot kompetisie presteer.

Volgens die klub se woordvoerder, Mariska Snyman, het lede aan die Ekurhuleni Ope (voorheen genoem die Oos-Gauteng ope) deelgeneem.

Dié kompetisie, wat jaarliks deur die Ekurhuleni Wrestling Association in Benoni aangebied word, is van Gauteng se grootste stoeikampioenskappe. Altesaam 390 stoeiers van 40 klubs van regoor Suid-Afrika het aan die byeenkoms deelgeneem.

“Die ope is jaarliks ‘n hoogtepunt op die stoeikalender, hoewel dit dié jaar heeltemal anders gewerk het omdat streng Covid-19 protokolle gevolg moes word. Daar is ook geen toeskouers toegelaat nie, maar elke stoeigeveg is ge-live stream op YouTube,” sê Snyman.

Hoewel dit die eerste keer sedert Ratel Stoeiklub se opening in Januarie 2020 was dat van hul stoeiers aan só ‘n groot ope-kompetisie deelgeneem het, het die vegters met talle medaljes weggestap. Die jong stoeiers het twee goue-, drie silwer en twee bronsmedaljes wat hulle in verskeie kategorieë ingepalm het, huis toe gebring.

“As mens in ag neem dat al ons stoeiers beginners was en nie eers ‘n volle jaar kon oefen en stoei nie, het die Ratels baie goed gedoen vir ‘n eerste ope-deelname, sê Snyman.

“Die afrigters is baie trots op elke stoeier wat deelgeneem het en ook vir elkeen se toegewydheid aan die sport. Hulle hoop ook om in die toekoms Springbok stoeiers op te lewer,”

het sy bygevoeg.

Related Articles

Back to top button