NewsNews

Werkloosheidversekering en die hantering van besering en siekte: Dit is wat jy moet weet

Werkloosheidversekering en die hantering van besering en siekte: Dit is wat jy moet weet

Gedurende die diensverhouding moet van verskeie sake deur werkgewers rekord gehou word. Ons het reeds gesels oor die dienskontrak wat die aanvang en duur van die diensverhouding bepaal en wat op rekord gehou moet word.

Daar is ook ander verpligte aangeleenthede wat deurlopend op ‘n daaglikse, maandelikse en jaarlikse basis hanteer word. Hierdie artikel gaan spesifiek twee van die belangrikste aspekte hanteer, naamlik werkloosheidversekering en die hantering van beserings en siektes gedurende die diensverhouding. Wetgewing hieroor sluit in, die Werkloosheidsversekeringswet, die Wet op Beroepsbeserings en Siektes en die Wet op Vergoeding van Beroepsbeserings en Siektes. Werkloosheidversekering is verpligtend vir alle werkgewers wat werknemers indiens het en wat meer as 23 uur per maand werk.

Die bepaling geld vir alle bedrywe in Suid-Afrika en geen werkgewer in enige private bedryf, insluitend werkgewers in huishoudings, is uitgesluit hiervan nie. Werkgewers moet reeds geregistreer wees of so gou moontlik registreer en maandeliks die verpligte bydraes aan die werkloosheidversekeringsfonds betaal. Hiermee saam moet ‘n maandelikse verslag ingedien word, van werknemers in diens en hul vergoeding, voor die 7de van elke opvolgende maand. Bydraes tot die fonds bedra 1% deur die werkgewer en 1% deur die werknemer. Werkgewers moet hierdie oorbetalings doen voor die 7de van die opvolgende maand. Werkgewers moet by beëindiging van diens van ‘n werknemer, die UI 19 vorm voltooi asook ‘n vergoedingsverslag wat die laaste vyf jaar se vergoeding van maand tot maand aandui.

Hierdie twee vorms moet na die Werkloosheidversekeringskantore versend word en afskrifte moet ook aan die werknemer oorhandig word. Werkgewers hou die oorspronklike dokumente op rekord. Daar is verskeie omstandighede wanneer werknemers by die werkloosheidsversekeringsfonds kan eis. Hierdie sluit in, sodra die werknemer ontslaan word, hy diens verlaat weens personeelvermindering, weens siekte nie verder kan werk nie, by aftrede met bereiking van 60 jaar, en weens die sluiting van ‘n besigheid. Werknemers is ook geregtig op voordele as hul vir lang termyne af siek is en hul siekverlof op gebruik is. Vir tye wat ‘n werknemer op kraamverlof is, en deesdae mag ook vir ouerskapverlof geëis word. By afsterwe van ‘n werknemer mag sy/haar afhanklikes ook eis van die fonds. Werknemers kan nie eis as hul bedank of weens dros ontslaan word nie. Die Departement van Arbeid tree tans sterk op om hierdie wet af te dwing.

Die Vergoedingsfonds wetgewing vereis dat alle werkgewers geregistreer moet wees. ‘n Onlangse Arbeidshof uitspraak verplig deesdae werkgewers in huishoudings om ook by hierdie fonds te registreer. Sodoende word werkgewers in huishoudings nou beskerm teen eise wat mag ontstaan sou die werknemer beseer of sterf gedurende hul diens. Werkgewers voltooi jaarliks ‘n aanslag, nie later as April en moet daarna die aangeslane bedrag aan die fonds betaal. Alhoewel werkgewers by die fonds geregistreer is, is baie van hulle steeds traag om eise deur die fonds te hanteer. Dit skep dus die situasie dat die werkgewer persoonlik verantwoordelik gehou kan word vir enige eise wat die werknemer dan mag hê. Gebruik die fonds tot die maksimum voordeel vir beide die werknemer en die werkgewer.

Die huidige Covid-19 situasie word ook deur hierdie fonds gereguleer. Hoe werk die eis prosedure vir beserings? Werknemers moet onmiddellik sodra hul beseer word, dit aan die werkgewer rapporteer. Die werkgewer moet hierna die nodige dokumentasie met sy verwysingsnommer duidelik aangedui, voltooi en by die mediese beampte of hospitaal inhandig waar die werknemer behandeling ontvang. Dit moet daarna ook, binne sewe dae, by die Fonds ingehandig word.

Mediese verslae deur mediese beamptes voltooi, moet die dokumentasie vergesel met gesertifiseerde afskrifte van die werknemer se identiteitsdokument en mees onlangse betaalstaat. Die Fonds behoort dan mediese en hospitaalkostes te dek. Vir die tydperk wat die werknemer nie werk nie as gevolg van die besering of siekte, sal hy opvolgverslae moet kry. Dit moet dan aan sy werkgewer voorsien word, wat dit dan op sy beurt sal inhandig by die Fonds. ‘n Finale mediese verslag, sodra die werknemer herstel het word dan tesame met ‘n hervattingsverslag deur die werkgewer voltooi en ingedien by die Fonds. Bewyse van betalings aan die werknemer of namens die werknemer gedurende sy afwesigheid word hiermee saam ingedien.

Die werkgewer sal dan terugbetaling van die fonds ontvang vir uitgawes deur hom aangegaan. Die werkgewer is verplig om gedurende die eerste drie maande wat die werknemer afwesig is van werk, 75% van die werknemer se vergoeding aan hom te betaal. Hierdie betalings is terugbetaalbaar deur die Fonds. Sou die afwesigheid weens besering of siekte langer duur as drie maande, sal die Fonds die werknemer verder vergoed. Die Fonds maak verder voorsiening vir uitbetalings aan werknemers, sou hul beserings of siekte permanent van aard wees. Verlies aan ledemate of gedeeltelike gesigsverlies word gewoonlik eenmalig uitbetaal.

As die besering totale ongeskiktheid tot gevolg het sal daar ‘n pensioen betaal word. By die afsterwe van ‘n werknemer weens ‘n ongeval in die werkplek word ‘n pensioen aan die naasbestaandes deur die Fonds betaal. Werkgewers moet die vereistes nakom in verband met beide hierdie wetgewing. Boetes en strawwe by versuim, kan ernstige gevolge inhou. Neem in ag, hierdie inligting is slegs samevattend en nie volledige advies nie..

Kry kundige ondersteuning in hierdie verband van jou naaste arbeidskonsultant wat jou behulpsaam kan wees. Met ons volgende artikel word verder aandag gegee aan werkgewers se verpligtinge ten opsigte van personeeladministrasie. https://parysgazette.co.za/49699/werkloosheidversekering-en-die-hantering-van-besering-en-siekte-dit-is-wat-jy-moet-weet/

https://parysgazette.co.za/49699/werkloosheidversekering-en-die-hantering-van-besering-en-siekte-dit-is-wat-jy-moet-weet/

Related Articles

Back to top button