NewsNews

Nagmerrie-ondervinding na Tequila (hondjie) gesteel is

“Ons het gedink ons sal hom nooit weer terugkry nie. Dit was die verskriklikste ondervinding en ons het baie trane gestort.”

“Ons het gedink ons sal hom nooit weer terugkry nie. Dit was die verskriklikste ondervinding en ons het baie trane gestort.”
Hul nagmerrie-ondervinding het verlede Vrydagaand begin. Daar was ‘n vertoning by Amanda se kroeg, die gewilde Phoenix Pub & Grill en daar was baie mense. Tequila en Yoda gaan oral saam met Amanda en is ook altyd saam met hul mens-ma by dié kuierplek. Toe Amanda agterkom Tequila (1 jaar oud) is weg, het sy dadelik op die kameras gekyk. Daar is toe gesien hoe albei die hondjies na die toe deur hardloop, die deur oopgemaak word en hulle na buite gaan. Yoda het weer ingekom, maar Tequila was skoonveld.
Die nuus is dadelik op sosiale media versprei en Saterdagoggend is verskeie leidrade opgevolg. Plaaslike inwoner Shane Pretorius het dit sy missie gemaak om Tequila te vind. Hy en sy ma Cornette, het die hele Saterdag elke leidraad opgevolg, maar sonder sukses. Daar was ongelukkig ook mense wat die Grielsel-egpaar se situasie uitgebuit het deur geld te vra voordat hulle inligting verskaf, waarna daar niks verder van hulle gehoor is nie. Daar was selfs iemand wat hulle afgepers het en gesê het dat hy Tequila sou seermaak as daar nie nog geld aan hom oorbetaal word nie.
Na die hele dag en nag se soek, vals inligting en onnodige betalings, was daar steeds geen teken van Tequila nie. Sondag is die soektog voortgesit. Omstreeks 12:00 het Amanda inligting ontvang dat ‘n voetganger vir Tequila in ‘n veld gesien het. Shane, ‘n kroegdame en die man wat Tequila gesien het, is dadelik na die plek waar die man Tequila gesien het.
“Op die pan-pad agter die Isak Steyl-stadion, diep in die veld, het ons hom gekry. Hy was met doringdraad vasgemaak. Ons kon hom daar uit die bosse loskry en ek het dadelik vir tannie Amanda gebel,” vertel Shane.
Tequila was baie dors en honger en natuurlik ook baie getraumatiseer.
“As hy vier ure later eers gevind was, was my hondekind seker dood. Hy was verskriklik dors,” sê Amanda. Tequila was voorheen ‘n vriendelike hondjie, maar nou is hy veral bang vir mans. Hy het nie fisies ernstige beserings opgedoen nie, maar sy lyfie het oral klein snytjies soos wat die doringdraad hom gekrap het.
“Ons gee hom nou ekstra baie aandag en liefde met die hoop dat hy weer vinnig sy ou self sal wees,” sê Amanda. Sy het dit verder duidelik gemaak dat dié saak nie hier gelos gaan word nie.  
“Die skuldige persoon gaan opgespoor word en sal boet vir wat hy gedoen het.” Amanda het ook lof uitgespreek en almal bedank wat soveel moeite gedoen het om te help om na Tequila te soek.
* Die man wie se inligting gehelp het om Tequila terug te vind, het sy beloning van R500 gekry. Daar wag ook ‘n heerlike ete van hul keuse vir Shane, sy gesin en nog ‘n vriendin wat met die soektog gehelp het.
 
Amanda Griesel en haar twee hondekinders, Yoda en Tequila, saam met Shane Pretorius wat byna onder elke klip na die gesteelde Tequila gesoek het.
Die mans sukkel om die doringdraag van Tequila af te kry.
Die doringdraad waarmee Tequila vasgemaak was. Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: https://vaalweekblad.com/89720/nagmerrie-ondervinding-na-tequila-hondjie-gesteel-is/

Related Articles

Back to top button