NewsNews

Die ou radio en die storie daaragter

Die ou radio het sy eie storie.

Gerda Havenga Bruinette is vandag 71 jaar oud. Die radio in die studeerkamer ook. Albei het op 4 Maart 1950 deel van die familie geword.

Gerda se pa, Gerrie Havenga, was ‘n lang man met ‘n sagte hart. Hy het dinge op sy manier gedoen en hom nie veel gesteur aan hoe die massas dink en doen nie. In sy jonger dae het hy selfs ‘n draai op die delwerye gemaak. Laat getrou ook – vir daardie jare. Hy en sy een broer het altyd op Saterdae perde gespeel.

Sy was nie baie ingenome met Gerrie se liefde vir perdewedrenne nie. Nie dat hy ooit broodgeld op die perde gemors het nie. Vir sy gesin het hy altyd eerste gesorg. 4 Maart 1950 was ‘n Saterdag en Gerrie en sy broer het oudergewoonte bietjie geld op hul gunsteling perde verwed, en gewen! Dis toe dat hy vir Bessie die splinternuwe His Master’s Voice draagbare radio koop as geskenk met die geboorte van hul derde dogter, Gerda.

Gerrie en Bessie Havenga in die 1940s

Die radio het deur die jare sy diens goed gedoen, nie net in die gesinswoning in Brakpan nie, maar dis ook elke jaar ingepak vir die vakansie in Parys.

Synde dat die radio op Gerda se geboortedag aan haar ma gegee is, was dit net logies dat sy die radio sou kry. Die radio het dus in 1972 saamgetrek Vanderbijlpark toe.

Meer as 30 jaar later, het Gerda se dogter, Gerda die radio as geskenk ontvang. Vir die volgende klompie jare het die radio saam met haar geswerf van Pretoria tot in Graskop en uiteindelik weer terug in Vanderbijlpark.

Die radio werk nog, maar is nie so maklik om aan die gang te kry nie. Dit verg baie geduld en bietjie vernuftigheid, want daar is ‘n lugdraad wat omtrent dwarsoor die kamer gespan moet word, alvorens enige sein opgevang word.

Jy gaan ook nie enige moderne Suid-Afrikaanse radiostasies opvang nie. Die radio werk nog met kort golf. Laaste keer wat die radio aan die gang gekry is, was in 2007.

Weet nie watter stasies is toe opgevang nie. Niemand kon ‘n woord verstaan nie en dit het beslis nie geklink na enige van Suid-Afrika se amptelike landstale nie.

Hoe dit ookal sy, mag Gerda Snr. en die radio nog lank vir ons gespaar bly.

Related Articles

Back to top button