NewsNews

Laaste kans vir insette oor onteieningswet

Daar is slegs drie dae oor om insette te lewer op die Wysigingswetsontwerp op Onteiening voor die finale sperdatum op 28 Februarie vandeesmaand.

Die VF Plus het ‘n beroep op die publiek gedoen om die kans aan te gryp.

“Hoe groter die openbare teenkanting teen die wet, hoe meer sal dit die VF Plus se hand sterk om die politieke stryd teen die finale aanvaarding van die wet te voer,” het Dr. Pieter Groenewald in ’n verklaring gesê.

Volgens Groenewald sal die wetsontwerp die wese van eiendomsreg in Suid-Afrika aantas.

“Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat dit nie net grond is wat geraak word nie, maar alle private eiendom, roerend, onroerend en selfs intellektuele eiendom.

“Dit is geen geheim nie dat die ANC met begerige oë kyk na grond en pensioenfondse,” meen Groenewald.

Jy kan die volgende skakel gebruik om insette en kommentaar oor die wet te lewer: https://www.parliament.gov.za/committee-notice-details/228.

“Wat grond aanbetref, is dit bekend dat die ANC-regering onteiening sonder vergoeding wil gebruik om sy mislukte grondhervormingsprogram nuwe stukrag te gee.

Die VF+ meen die ANC se grondhervormingsprogram het klaaglik misluk. Lesersfoto van plaas: Pierre Fourie

“Pres. Cyril Ramaphosa gee te kenne dat dit gedoen word om welvaart en vooruitgang vir massas te skep.

“Die waarheid is egter dat onteiening sonder vergoeding, tesame met swart ekonomiese bemagtiging, enige kans op ekonomiese welvaart tot niet maak,” sê Groenewald.

Volgens Groenewald is die VF Plus as party gekant teen enige vorm van onteiening vir grondhervormingsdoeleindes en veral teen onteiening sonder vergoeding.
Groenewald meen die regering sal die grond ook nie met titelaktes oordra aan nuwe eienaars nie en persone wat op hierdie wyse grond ontvang, sal wesenlik net ‘besetters’ daarvan wees. Die grond bly in patronaatskap van die staat.

“Dit is daarom duidelik dat politieke magsbeheptheid agter die wet skuil, en nie ‘n ware poging om mense te bemagtig nie.

“Die VF Plus se siening was nog altyd dat grondhervorming moet geskied op ‘n grondslag van gewillige koper, gewillige verkoper. Waar nodig moet ‘n hof die vergoeding bepaal en besluit oor die billikheid van die onteiening.

“Hierdie wetsontwerp gee aan die betrokke minister volmag om oor vergoeding te besluit en eers daarna kan die persoon wat onteien word, hof toe gaan om die besluit in dispuut te plaas indien hy dit kan bekostig.

“Daar is baie tegniese aspekte in die wetsontwerp verskuil agter vae woordspelings wat misbruik kan word vir grondhervorming alhoewel dit onskuldig genoeg voorkom indien onteiening slegs vir die normale doelwitte (soos om ‘n pad te bou) gedoen word,” meen Groenewald.

Die parlement. Foto: Verskaf

“Die ANC is nie te vertrou met so ‘n belangrike wet waar hy alleen kan besluit oor die vertolking van vae omskrywings nie. Die regering se beoogde verandering aan Artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, kan geen illusie hieroor laat bestaan nie,” sluit Groenewald af.

Related Articles

Back to top button