NewsNews

Ouma en kleindogter se scrunchies is Facebook treffer

Dit was net 'n vakansie projek om jong Liané besig te hou, maar toe plaas haar ma dit op Facebook ...

Liané Naude (8) van Vanderbijlpark geniet dit om te dans en aan sport deel te neem. Liané, die lang vakansie en die Covid-19 inperkings is egter nie groot maats nie. “Ek raak elke dag bored,” vertel sy. “My ouma het gesê ek moet kom, sy sal my besig hou.” Haar ouma is Petro Naude. “Die kind raak gefrustreerd so sonder aktiwiteite en maats, toe besluit ek om haar te leer hoe om ‘n scrunchie te maak,” vertel Petro. Die scrunchies word met hope geduld omtower uit lang stroke materiaal. Die groot aantrekkingskrag van die projek lê in die omkapmasjien. Liané geniet dit vreeslik om met die masjien te werk. Sy het reeds gevra haar ouma moet asseblief die masjien vir haar gee, “as ouma te oud raak”. Met die eerste scrunchies klaar het Petro ‘n paar foto’s geneem vir Liané se ma, Liezel-Mari Naude. Liezel-Mari het die foto’s op Facebook gedeel. Die pos het soos ‘n veldbrand versprei en bestellings het vanoor die land ingestroom. “My mamma se foon hou nie op met lui nie,” vertel Liané. Haar ouma lag. “Ek kon dit nie glo nie. Ons het bestellings van so ver as Kaapstad, Margate en Delareyville ontvang.” Binne ‘n week het hul meer as 200 scrunchies gemaak. Petro se skoondogters het oor die naweek kom help en boet Stiaan het geleer hoe om die materiaal om te dop voordat die omkapwerk gedoen kan word. Liané was baie opgewonde toe sy uitvind dat die sangeres, Corlea Botha, haar scrunchie-projek op Facebook gedeel het. Corlea het onder andere geskryf: “Ek ken glad nie hierdie mamma, of haar dogtertjie nie. Maar toe ek deur my FB scroll en hierdie post sien wat een van my vriende gedeel het, toe reken ek, DIT verdien ‘n share!!!! Welgedaan klein Liané!”

Liané, Stiaan en kleinsus Mia met van die klaargemaakte scrunchies.

Stiaan (10) sien groot moontlikhede vir sy sussie se onderneming. “Ek sê vir haar, ‘n jaar van nou af het sy ‘n fabriek aan die gang,” vertel hy, maar sy sus en ouma stem nie saam nie. “Hierdie is sommer net ‘n lekker stokperdjie tot die vakansie verby is. Volgende vakansie pak ons weer ‘n nuwe projek aan. Ek sal nog bietjie dink wat dit sal wees,” belowe Petro en lag van voor af oor haar besig-hou plan se skielike sterstatus.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/84768/ouma-en-kleindogter-se-scrunchies-is-facebook-treffer/

Related Articles

Back to top button