NewsNews

As jy rigtingbeduiweld gebore is!

Ek is mos rigtingbeduiweld gebore. Voete eerste in die wêreld ingekom en so het ek nog nooit geleer rigting hou nie.

Ek is mos rigtingbeduiweld gebore. Voete eerste in die wêreld ingekom en so het ek nog nooit geleer rigting hou nie.  So ‘n paar somers gelede wil ek vir my niggie in Mooinooi gaan kuier. Vlak voor twee die Vrydagmiddag vat ek die pad. Dit gaan vir ‘n ruk te lekker, maar so begin die verkeer optel en dit raak besig. TomTom hou my op die N1. Op ‘n stadium mik ek om by Roodepoort af te klim en Hendrik Potgieter uit te vat, maar ek bly in die verkeerde baan en beland uiteindelik weer op die N1. Ek besluit om TomTom maar te vertrou.

Die verkeer word erger, die bane begin staan. Ek druk die alternatiewe roete knoppie en beland op die R101. Dit kan nie wees nie. In die stilstaan by ‘n verkeerslig, tik ek Mooinooi in. Skielik dui TomTom ‘n heel ander rigting aan. “Draai links,” kom die opdrag. Ek draai en raak paniekerig, want ek besef Diepsloot en spitstyd lê in my pad. Ek draai sommer links en weer links en beland weer op die N1. Gelukkig is ek naby ‘n vulstasie. Stop en oordink die situasie. In alle rigtings staan die verkeer stil. In Mooinooi gaan ek nie uitkom tot lank na donker nie. Terug in Vanderbijl gaan ek nie uitkom tot lank na donker nie. Bel toe maar ‘n vriendin in Rooihuiskraal vir oornag verblyf en kuier. By nadere ondersoek het dit geblyk dat ‘n adres in Centurion onder my niggie se naam op TomTom beland het.

Moenie vra nie, ek weet nie hoe, wat en waar nie. Jare terug, in die dae voor GPS, moes ek eenkeer van Pretoria af Bethlehem toe vir ‘n werksfunksie. Tot in Bethlehem het dit goed gegaan, maar die volgende dag se terugreis … Ek het vroegoggend op die snelweg beland en gery en gery en gery. Uiteindelik ook by ‘n vulstasie gestop en my Pa gebel om aanwysings te kry. Pa het geluister en min of meer die volgende te sê gehad: “As jy by die vulstasie uitry, draai regs. Ry so paar kilometer aan, draai links en dan weer links … en dan kom drink jy koffie by die huis, want jy is nou net buite Vanderbijlpark!” Ek was stomgeslaan! Het heel die verkeerde snelweg dwarsoor die Vrystaat gery. Het daardie aand maar in Vanderbijl oorgeslaap. My kollegas wou hul slap lag en ek is maande daarna nog geterg oor die verkeerd ry. Maar dis okay, lag maar, ek het ander talente.

https://vaalweekblad.com/83523/as-jy-rigtingbeduiweld-gebore-is/

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button