Die donkie het glo sowat vier weke tevore, toe die watervlakke laag was, sy weg na die eiland gevind. Die watervlakke het daarna gestyg en die arme langoor was op die eiland vasgekeer. Iemand het gelukkig die donkie opgemerk en die NSRI-personeel gekontak waarna hulle dadelik ondersoek ingestel en tot die donkie se redding gekom het.
‘n Plaaslike veearts van Villiers Dierehospitaal is genader om te help. Hy is saam met die span na die eiland en het die donkie ondersoek en gevind dat die arme dier ondervoed was en aan stres ly. Hy het die donkie met ‘n kalmeermiddel geskiet, waarna die donkie op ‘n spesiale draagbaar gelaai en op die NSRI Crock gelaai en na veiligheid geneem kon word.
Die donkie is weer veilig by sy eienaars wat verheug was oor sy tuiskoms nadat hy vier weke lank soek was.