EntertainmentNewsNews

Kersmusiek dié naweek in Vredefort

Kersmusiek dié naweek in Vredefort.

Elf musici het die afgelope naweek by die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein bymekaargekom om ´n program van barokmusiek in te studeer wat hierdie Saterdag, 5 Desember om 17:00 in die NG Kerk op Vredefort uitgevoer word. Twee kantates van Johann Sebastian Bach en instrumentele stukke van Pachelbel en Corrette is op die program. Die kantates Nur jedem das Seine en Nun komm, der Heiden Heiland word uitgevoer.

Laasgenoemde is ´n Kerskantate wat die koms van Christus besing, en op die tradisionele Kerslied met dieselfde naam gebaseer is. ´n Verwerking van ´n koraalvoorspel van Bach op hierdie lied vir strykerorkes, ´n werk gebaseer op die Kerslied Vom Himmel hoch, da komm ich her van Pachelbel, en die eerste van ses klein simfonieë van die Franse barokkomponis Michel Corrette, wat almal op Franse kerswysies gebaseer is, vorm die instrumentele deel van die program. Die vokaalensemble bestaan uit Alna Smit (sopraan), Diana Cowen (alt), Zander Fick (tenoor) en Hendré van Zijl (bas). In die instrumentaalensemble speel Linnet Labuschagne en Ute Smythe viool, Liezl Smith altviool, Margot Smythe tjello, Hilton Anspach basviool, Gerhard Benade barokfagot, en John Coulter orrel. Kaartjies sal by die deur beskikbaar wees teen R100.

Voorafbespreking is nie nodig nie. Inligting is by Gerhard Benade beskikbaar by gerhard@deelfontein.co.za of by 083 280 9784.

Related Articles

Back to top button