BlogsNewsNewsOpinions

Brand-kos kán seker lekker wees

Ek, Nico en Bessie het die aand gaan uiteet. Buite gesit by so ‘n grênderige restaurant. Die beligting was nie wat wonders nie en dis waar die moeilikheid begin het ...

Jare later, toe Nico al lankal hemel toe is, kry ek ‘n paar peppadew plantjies present. Ma het dit geplant en die plantjies het ongekende groei getoon. Was ook nie lank nie toe dra daardie plantjies peppadews of hulle betaal word. Ma het ‘n klompie geoes. “Ek gaan proe,” sê ek. Ek sny ‘n mooi rooie se punt af en haal die pitte uit. Vat ‘n hap op pad sitkamer toe. Pa moet ook proe. “Dit smaak soos greenpepper, met so ‘n effense byt in,” verklaar ek. Toe vat ek nog ‘n hap … “Waaaaaa!!”, skree ek en storm terug kombuis toe. “Wat nou?” vra Ma verskrik. “Dit brand” sê ek. (Okay, ek het gesê die @#$% goed brand, maar hierdie is ‘n gesinskoerant … ). Ek drink ‘n glas melk. “Jy is skoon rooi in die gesig,” sê Ma. Pa lag. Ma haal ‘n stukkie soetwortel uit die pot. “Eet solank dié,” sê sy, “dalk help dit.” Vyf minute later was my oë nog tranerig, maar die ergste vuur in my keel was geblus, saam met alle lus vir peppadews.
Die laaste keer wat ek teen brandkos verloor het, was in 2018 tydens die Swart-Skaap kuiernaweek. Die Vrydagaand kom Hans die kombuis binne met gebraaide wors. Hy gooi sonder seremonie ‘n klomp warm sous oor. “Wil jy proe?” vra hy en druk die bak onder my neus. Die sous lyk vir my al klaar te erg, maar ek is vroeër tot ‘n “sissie” verklaar omdat ek sy rissiesop wou systap. Ek vat ‘n hap. ‘n Half sekonde later brand dit tot in my oordromme.
Ek vlug tot waar PJ langs die vuur staan met ‘n bottel in die hand. “Help”, is al wat ek uitkry. Gelukkig verstaan hy. Ek vat sommer groot slukke en die vuur in my oordromme bedaar. “Het jy van Oom Hans se beroemde wors* geëet?” lag hy. (*Die wors word van goeie vleis en baie rooi en groen rissies gemaak en staan ook bekend as, sal ons die eufemisme gebruik?, weerligstraalwors.)
Rondom my klink meer krete, hoesbuie en ‘n paar skelwoorde op. Hans is besig om die rondte te doen met die wors. Soos een man sê, terwyl hy die trane uit sy oë vee, “na die derde stukkie raak dit baie lekker.” Ek was, en is, nie so seker van daardie stelling nie!
https://vaalweekblad.com/81629/brand-kos-kan-seker-lekker-wees/

Related Articles

Back to top button