NewsNews

Brandstigters verwoes 15 trokke in en om die Vaal

Altesaam 25 swaarvoertuie is vanaf verlede Donderdag tot Saterdag op Suid-Afrika se paaie verwoes – 15 daarvan in die Vaaldriehoek en omliggende gebiede.

Die R59-snelweg tussen Parys en Sasolburg was Saterdagaand ‘n inferno van verwoesting nadat misdadigers vyf swaarvoertuie met petrolbomme bestook en laat uitbrand het.
Volgens brigadier Motantsi Makhele van die polisie in die Vrystaat, is die eerste voertuig omstreeks 20:30 deur ‘n petrolbom getref en tot stilstand gedwing. Nog vier swaarvoertuie is daarna een-vir-een tot stilstand gedwing en aan die brand gesteek. Die trokdrywers het in die veld skuiling gesoek teen die aanvallers, wat glo op hul voertuie geskiet het. Die voorval het sowat 13 km buite Sasolburg plaasgevind.
Sasolburg se brandweer en ander ondersteunende dienste was vinnig op die toneel en het die brande geblus, maar nie een van die voertuie kon gered word nie. Die trokbestuurders is later die nag na die distrikshospitaal in Parys vervoer, waar hulle vir skok behandel is.
Vaalweekblad kon vasstel dat een van die vragmotors aan Anton le Roux Transport van George behoort en uit die Kaap na Gauteng op pad was, terwyl ‘n ander voertuig, wat aan mnr. Thulo John Matli van MooiMan Transportation behoort, uit Kroonstad gekom het.
Enigiemand met inligting oor die voorval of die identiteit van die brandstigters, word versoek om speuradjudant-offisier Freddie Nel by 083 756 7977 of Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
Mnr. Rassie van Greunen se swaarvoertuig is Saterdagaand op die R59-snelweg naby die Blokhuis aan die brand gesteek. Dit was nadat die aanvallers sy voertuigbestuurder vyf keer geskiet het.
In ‘n afsonderlike voorval is ‘n trok van mnr. Rassie van Greunen ook Saterdagaand op die R59-snelweg tussen Alberton en die Blokhuis naby Meyerton vernietig. Die trok is deur die misdadigers aan die brand gesteek en daar is ook op die trok geskiet. Mnr. Van Greunen se trokbestuurder is deur vyf koeëls getref. Tydens Vaalweekblad se saktyd was hy in ‘n kritieke toestand in die waakeenheid van ‘n Randse hospitaal.
* Donderdagaand, twee dae voor die voorvalle op die R59-snelweg, is nege vragmotors ook op die N3-roete naby Heidelberg deur vlamme vernietig. Die aanvallers het die pad glo met ‘n sedanvoertuig en ‘n minibus versper en die swaarvoertuie gedwing om te stop. Die vragmotors is daarna met petrolbomme bestook en het saam met die sleepwaens uitgebrand. Volgens polisiewoordvoerder Mavela Masonda is die motief vir die brandstigting onbekend en ‘n beroep word gedoen op enigiemand met inligting om polisieverklarings te gaan aflê.
Trokbestuurders van alle rasse het die afgelope dae op die Facebookgroep, SA Long-distance Truckers, gesê hulle voel uiters onveilig en sal dit verkies dat hul werkgewers alle rywerk vir minstens ‘n week opskort. Sommige swaarvoertuigbestuurders reken die EFF sit agter die aanvalle om anargie te saai en die land se ekonomie te knou, terwyl ander glo dat dit gemik is op trokdrywers van buurlande wat onwettig in S.A. werk. Dit blyk egter dat swaarvoertuie voor die voet aangeval is sonder inagneming van die voertuigeienaar of -bestuurder se ras of nasionaliteit.
Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:
https://vaalweekblad.com/81515/brandstigters-verwoes-15-trokke-in-en-om-die-vaal/

Related Articles

Back to top button