NewsNews

Mans in hegtenis na beweerde wandade met kinders

Die polisie se provinsiale eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming het die afgelope week twee groot arrestasies in die omgewing gemaak.

‘n Lid van dié eenheid, ao. Bossie Boshoff, het die middag van 5 November ‘n 52-jarige man van Deelkraal in hegtenis geneem nadat hy na bewering onwettige dade met minderjarige seuns gepleeg het. Die man is van die verkragting en onsedelike aanranding van kinders aangekla. Hy het Woensdag, 11 November vir ‘n formele borgaansoek in die landdroshof in Oberholzer verskyn. Borg is nie toegestaan nie. Boshoff het dieselfde middag nóg ‘n 52-jarige man, dié keer van Elandsrand, vasgetrek. Dié man is vir die vervaardiging en besit van kinderpornografie in hegtenis geneem. Sy misdade word nie met dié van die ander beskuldigde verbind nie. Boshoff het egter ‘n onverwagse verdere slag geslaan toe hy drie onwettige vuurwapens, waarvan een ‘n haelgeweer, en onwettige ammunisie in die man se huis gevind het. As gevolg hiervan is die beskuldigde ook vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie aangekla. Die beskuldigde het op 6 November in die landdroshof in Fochville verskyn. Borg is nie toegestaan nie.

Related Articles

Back to top button