CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Oom Jaarsie is g’n mogge troffe waterwyser nie

Oom Jaarsie is g’n mogge troffe waterwyser nie

Daar is nie ’n plek in die land waar oom Andries van Jaarsveld nog nie water gewys het nie. Selfs in die droë Kalahari ken hulle hom. As hy gesê het daar’s water, kan jy maar boor, sê hy, as hy vertel van die plaas waar hulle vir 14 dae geboor het. En toe spuit die water waar gesê is daar nie ’n druppel sou wees nie.

Waar hy water gewys het, het ’n stok saam met hom teruggekom. Elkeen het hy self uitgesoek, geskuur en vernis. Elk met die datum en die plek waar hy water gewys het. ’n Prag versameling kieries – soos ’n landkaart van sy waterwys-jare.

Hy is al ‘n man van 93, en nadat die streng inperkingsregulasies verslap is, het hy al sedertdien weer op 12 plekke water gewys. Op 10 van die plekke is daar reeds geboor. Sterk water, sê hy, en vertel dat hy nooit ’n fout maak nie, “want dis ’n talent wat sy Hemelse Vader hom gegee het.” Ja, hy’s nie ’n “mogge troffe” waterwyser nie, sê hy trots, en dit staan ook so op sy besigheidskaartjie. Hy verduidelik hoe hy die drie stokke waarmee hy water wys, self gemaak het. Dan vertel hy dat die water wat onder die grond vloei, wrywing veroorsaak en dat dit weer statiese elektrisiteit skep. Hoe sterker die stroom, hoe sterker lesing kry hy. Sy stokke afgemeet in liters en gellings.

Andries aan die verduidelik hoe sy waterwysstokke werk.

“Weet jy ek wys nou al meer as 40 jaar water,” sê hy Dan vertel hy dat hy eintlik vir predikant studeer het, maar familie omstandighede hom genoodsaak het om sy studies te staak en in ‘n droogskoonmaakonderneming te gaan werk. Uiteindelik het hy ’n pos by die munisipaliteit in De Aar aanvaar en is dit daar waar hy afgetree het. Toe word Parys die Van Jaarsvelds se tuisdorp. Na 16 jaar in Parys, trek oom Andries en tannie Beatrice nou na hul kinders in Heidelberg. Hulle gaan die dorp mis, en die dorp vir hulle.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://parysgazette.co.za/44916/oom-jaarsie-is-gn-mogge-troffe-waterwyser-nie/

Related Articles

Back to top button