BlogsNewsNewsOpinions

Inkopie terapie? Watwou, dis mishandeling!

Ek het geen voorliefde vir inkopies nie. “Retail therapy” bestaan nie vir my nie. Ek koop klere en skoene wanneer die wat ek het, nie meer gedra kan word nie. By verre my grootste nagmerrie is wanneer ek besef dis tyd vir ander swemklere.

Ek is van babadae af al so gelukkig soos ‘n walvis in die water, maar van toe al was swemklere ‘n probleem. As kind het ek permanent ‘n strikkie op my rug gesonbrand, want die bandjies het van my skouers afgerol. Groot was my vreugde toe ek ontdek swemmers se baaikostuums (nie die beste woord in Afrikaans nie) se bandjies kruis agter. Nog groter my vreugde toe hulle begin om daardie lang eenstukke te dra. Dit het alles mooi in plek gehou en dit was ook sommer ideaal vir oefen, maar modes kom en gaan en enige swemstuk kan ook net so lank hou. In 2017 leen Ma vir my ‘n affêre wat sy nog laas by Bessie gekry het (my niggie/sussie nie om te verwar met Baba Bessie nie). Die ding pas toe, behalwe bo langs waar dit vir mense, met permissie gesê, met groter mates gemaak is. Ek het mos voorrybrekervreterskouers, maar het die ry gemis vir die groter bo. Ry was seker te lank, ek hou nie van lang rye nie.
Allegeval, November daardie jaar besluit ek en Ma ons wil Weesgerus toe, maar albei is swemstukloos. En daar kan mens mos nie veel meer doen as slaap en swem nie.
Vaar ons die Mall binne. Kom vyf ure later by die huis. Ma het maklik ‘n nommertjie gekry. Pienk met ‘n rompie en al. Te oulik. Maar duidelik het al die kontrei se groot ‘anties’ daardie somer swemklere gekoop, want by die eerste winkel hang daar net klein nommertjies. Teen winkel nommer vyf besef ek die name mag verskil, maar die swemklere is almal deur dieselfde genius ontwerp.
Dit het sulke dun bandjies wat vrolik vir my tong uitsteek, voordat hulle oprol en mik om af te gly.
“Die goed is vir vet vye ontwerp,” verklaar ek vies en baie luidkeels toe ek die soveelste een van my afpluk. Eindelaas pluk Ma ‘n bedryf daar van die rak af. Dis blou, gestreep en die romp sit net so bokant my knieë. Die prys slaan my asem weg. “Dit lyk ougat,” verklaar Ma en ek probeer om haar sin nie te ver te ontleed nie. Ek koop die ding. Later wys Ma my nuwe baaigewaad vir Pa. “Dit lyk soos ‘n rok waarin sy kan gaan sokkie,” is Pa se enigste kommentaar. Ek noem dit nou my Voortrekker-baaipak. Die bande oor die skouers is breed, niks val uit nie en alles is so bedek dat ek baie geld spaar op sonblok. Mode-gewys pas ek nou perfek in tussen dames wat dit tussen 1875 en 1890 in die vlakwaters by die see gewaag het, ek benodig nog net hul prettige swemkappies en skoene!

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Inkopie terapie? Watwou, dis mishandeling!

Related Articles

Back to top button