NewsNews

Twaalf jaar vir sindikaatlede wat sakeman beroof en skiet

Drie lede van ’n misdaadsindikaat wat in 2011 by ‘n rooftog op die Vaaldriehoekse sakeman dr. Gary Immelman betrokke was, is Woensdag, na ’n verhoor wat bykans ’n dekade lank geduur het, tot effektiewelik 12 jaar tronkstraf gevonnis in die streekhof in Vereeniging. Lucky Mabaso (40), Titus Mongemontsho (50) en Nzamo Sizwe Nsimande (42) …

Drie lede van ’n misdaadsindikaat wat in 2011 by ‘n rooftog op die Vaaldriehoekse sakeman dr. Gary Immelman betrokke was, is Woensdag, na ’n verhoor wat bykans ’n dekade lank geduur het, tot effektiewelik 12 jaar tronkstraf gevonnis in die streekhof in Vereeniging.

Lucky Mabaso (40), Titus Mongemontsho (50) en Nzamo Sizwe Nsimande (42) was deel van die sindikaat wat op Maandag 25 Julie 2011 die rooftog by Immelman en sy vrou Lorna se huis in Drie Riviere uitgevoer het.

Immelman is altesaam ses keer geskiet maar het die voorval oorleef.

Landdros Chris Kruger het tydens vonnisoplegging gesê dat hy die regsverteenwoordigers van die beskuldigdes se voorstel aanvaar dat die vonnisse op verskeie aanklagte samelopend uitgedien moet word.

“Indien die verskeie vonnisse na mekaar uitgedien word (in plaas van samelopend) sal dit tot ‘n absurde lang tydeperk van tronkstraf neerkom.”

*Al drie die beskuldigdes is tot vyf jaar tronkstraf vir die ontvoering van Immelman se werker gevonnis.

*Al drie die beskuldigdes is op ses aanklagte van roof met verswarende omstandighede tot 12 jaar tronkstra gevonnis.

*Op die agtste klag – die poging om Immelman te vermoor – is al drie beskuldigdes tot 12 jaar tronkstraf gevonnis.

“Die rede waarom hierdie vonnis aansienlik swaarder is, is weens die beskuldigdes se direkte bedoeling om Immelman te vermoor en die graad van Immelman se wonde,” het Kruger tydens vonnisoplegging bygevoeg.

*Op vier ander klagte van poging tot moord is die drie verdagtes elk tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.

*Daar was ook ’n klag van roekelose en nalatige bestuur waarop Lucky Mabaso (40) skuldig bevind is en waarvoor hy tot tronkstraf van ses maande gevonnis is.

Soos Kruger gesê het sal hierdie vonnisse samelopend uitgedien word en sal dit in effek neerkom op twaalf jaar tronkstraf vir elk van die drie verdagtes.

Kruger het gesê dat indien die saak binne ’n redelike tydperk afgehandel is (wat nie die geval was nie) sou hy niks minder as ’n vonnis van 25 jaar vir elk van die beskuldigdes oorweeg het nie.

Maar die beskuldigdes is immers reeds die afgelope nege jaar en vier maande agter tralies terwyl die gereg sy gang gegaan het.

Almal was dit eens dat die saak uitsonderlik lank geduur het.

Kruger het ook gelas dat indien die veroordeeldes vir parool in aanmerking kom dat Immelman die geleentheid gegun word om ’n voorstel aan die paroolraad te maak.

Beskuldigde 4: Nzamo Sizwe Nsimande (42) is effektiewelik tot 12 jaar tronkstraf gevonnis, ten spyte daarvan dat hy ook vorige veroordelings vir diefstal het. Foto: Christiaan Cloete
Beskuldigde 2: Titus Mongemontsho (50) is effektiewelik tot 12 jaar tronkstraf gevonnis. Foto: Christiaan Cloete
Beskuldigde 1: Lucky Mabaso (40) is effektiewelik tot 12 jaar tronkstraf gevonnis. Foto: Christiaan Cloete
Plaaslike sakeman dr. Gary Immelman, wat altesaam ses keer geskiet is tydens die rooftog by sy huis in Drie Riviere in 2011 maar die voorval oorleef het, in die hof tydens vonnisoplegging Woensdag. Agter hom is een van talle swaar gewapende polisiemanne wat gesorg het dat niemand ontsnap nie. Foto: Christiaan Cloete

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Related Articles

Back to top button