NewsNews

Vragte vol rommel langs rivieroewers opgetel en verwyder

“Weet jy, as elke ou net sy bietjie doen en voor sy jaart skoonmaak, dan sal ’n ou nie met hierdie gemors sit nie.”

Só meen Kobus Ferreira, ’n afgetrede passer en draaier wat veronderstel is om met pensioen te wees, maar nou ’n voltydse werk daarvan maak om agter ander mense skoon te maak.
Kobus meen dit is skrikwekkend om te sien hoe min mense vir die omgewing omgee nadat hy en werkers van die organisasie Proudly Three Rivers onlangs ingespring om die Sam Gross Jetty, Vosloopark en ander gebiede langs die rivier skoon te maak.
Die organisasie is deur ’n groep plaaslike sakemanne op die been gebring en beywer hom om die agteruitgang van Drie Riviere te stop.

Honderde glasbottels is langs die Vaalrivier gevind waar ‘n kolonie van onwettige plakkers vir jare lank toegelaat is om te plak.

Op 18 September was Kobus en sy span by die Sam Gross Jetty sowel as ’n stuk naburige terrein wat glo aan General Smuts High School behoort en erg onder die morsjorse deurgeloop het. Hier moes hulle ‘n stootskraper kry om ’n hoop bourommel op te ruim. Volgens Kobus het die eienaar van ‘n nabygeleë eiendom ‘n swembad gegrawe en die sand sommer in die park weggegooi. Mense kom glo ook gereeld om tuinrommel en
huishoudelike vullis daar af te laai.
“Kyk net hoe lê die vullis. Die oomblik wat ’n plek eers so begin lyk, is wanneer die mense met karre inkom en seks in karre het, in die park eet en hul rommel sommer net so by die venster uitgooi. Kyk hoe lyk dit deesdae in Vosloopark.”
Op 22 September het Kobus en sy span ook rommel in Vosloopark opgetel waar bakkievragte vol rommel weggery is. Die rommel moes na Meyerton weggery word. Hy reken sommige van die rommel is jare gelede daar gestort en net so gelos, aangesien van die bottels wat hulle opgetel het, nie meer op die mark beskikbaar is nie.
“Hierdie is jare se goed. Dit is darem nou nie oornag nie. Dit is maar ouens wat hier by die rivier kom drink en hulle bottels by die venster uitgooi. Hier het vanoggend al ’n paar karre onder die bome gestaan.”
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het onlangs ‘n poging aangewend om van die onwettige plakkers uit Vosloo Park te verwyder, maar dit blyk of heelwat van die plakkers binne ‘n paar dae maar net weer teruggetrek het.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Vragte vol rommel langs rivieroewers opgetel en verwyder

Related Articles

Back to top button