NewsNewsSportSport

Prestasie is sy prioriteit

Bert Moolman, die senior Luiperds en NWU Varsitybeker krag- en kondisioneringsafrigter, het die interessante taak om op ‘n analitiese wyse die beste uit elke speler te bring en ‘n kultuur van prestasie en uitnemendheid te skep.

In vandag se professionele sportwêreld is elke millimeter en sekonde wat gewen word van kardinale belang.

Bert Moolman, die senior Luiperds en NWU Varsitybeker krag- en kondisioneringsafrigter, het die interessante taak om op ‘n analitiese wyse die beste uit elke speler te bring en ‘n kultuur van prestasie en uitnemendheid te skep.
Rugby gaan deesdae meer oor wie die beste vir 80 minute op die veld is. Dit gaan ook oor wie alles moontlik doen om hul optimale potensiaal te bereik.

“Die oefenprogramme fokus nie net op fiksheid nie, maar ook om ‘n speler beter te maak in rugby. Dit is sportspesifiek. My doel is om beter rugbyspelers te maak en hulle prestasie te bevorder,” verduidelik Moolman.

Hierdie ywerige sportliefhebber geniet sy rugby, maar is ook ‘n groot Liverpool sokkerondersteuner. Verder is hy ook ‘n liefdevolle familieman vir sy vrou Christél en hulle twee kinders,Charlotte en Neil.

“Ek was nog altyd mal oor sport, maar nooit gespesialiseerd genoeg om ‘n top sportman te wees nie. Dit is dalk omdat ek al baie goed aangepak het en nie spesifiek vroeër in iets gespesialiseer het nie,” noem Moolman, wat sy B.A.Hons. in 2010 in Sportwetenskap voltooi het.

Moolman se betrokkenheid by die NWU as afrigter het in 2013 begin toe hy as afrigter vir die Luiperds o.19 en NWU o.19 spanne aangestel is. Hy het sy tande vir ‘n klompie jare by die juniors geslyp voor hy na die senior spanne oorgeskuif het. “Die grootste verskil is dat die juniors meer na jou luister en die senior spelers al meer ‘n idee het van wat hulle wil bereik – so jou voorbereiding is nog deegliker. Seniors het ‘n groter verwysingsraamwerk, maar hulle is eintlik net groter ‘kinders’,” grap Moolman.

‘n Normale werksweek voor ‘n groot wedstryd sluit ‘n klompie take vir Moolman in waar hy moet seker maak dat spelers se dieet reg is, dat elkeen se oefenprogramme optimaal werk en hulle vordering met GPS-stelsels meet.

Bert Moolman saam met voormalige Luiperds senter, Evardi Boshoff.

“Die week sal byvoorbeeld by die gimnasium begin waar spesifieke oefenprogramme gevolg word,” verduidelik hy. Daarna is Moolman ook betrokke op die veld tydens die Luiperds se oefensessies en help vir hoofafrigter, André Pretorius om die oefeninge met GPS-data te monitor.

“So kan ek onder meer presies sien hoe vinnig elke speler hardloop, wanneer hulle moeg word, waarmee hulle sukkel en waarin hulle presteer,” voeg hy by.
Dinsdag is ‘n dag van herstel vir die spelers, met Woensdag wat as ‘n tipe leersessie aangebied word waar spelers oor die vorige naweek se wedstryd, hulle vordering en nog meer ingelig word. Donderdae word daar op spoed gefokus, terwyl Vrydae weer gebruik word om spelers met GPS te monitor en te meet sodat hulle gereed is vir die dag van die wedstryd.

“Op ‘n Saterdag wanneer ‘n wedstryd gespeel word, is voeding ontsettend belangrik. Ek probeer om vir elke speler die beste dieetplan te gee en ek gebruik dan ook self advies van dieetkundiges, aangesien dit nie my spesialisveld is nie. Tydens opwarming monitor ek ook die spelers en tydens die wedstryd kan ek kyk hoe die spelers fisies vorder en raad gee oor wanneer ‘n speler moeg raak en vervang kan word.

“Die voordeel hiervan is dat die terugvoer lewendig is. Ek sal ook baie keer op die bus na ‘n wedstryd met die spelers gesels en my data verwerk. Verder fokus ek ook hoe om my data goed te bestuur en dit meer doeltreffend te gebruik.”

“In hierdie werk is dit ook baie belangrik om ‘n goeie interpersoonlike verhouding met spelers en afrigters te hê – as die spelers jou vertrou, maak dit dit makliker vir hulle om jou raad te volg.
“Spelers moet by jou kan inkoop en jou programme sonder twyfel volg. Hulle moet in die sisteme kan glo en weet waarvoor hulle werk. Hoe beter hulle vertroue in my is, hoe beter sal hulle luister en die groter prentjie verstaan,” noem hy.

Bert Moolman (regs) werk hier saam met Chaka Willemse tydens ‘n Luiperds o.19-wedstryd.

Moolman verduidelik ook dat mense wat sy beroep wil volg oor ‘n paar vaardighede moet beskik en bereid moet wees om ongewone ure te kan werk. “Eerstens moet jy daarvan hou om probleme op te los en ‘n nuuskierige brein te hê. Verder moet jy met baie mense kan werk en vreemde ure werk waar roetine nie altyd die norm is nie.

Konflikhantering is ook belangrik omdat daar maklik meningsverskille kan wees in ‘n hoë prestasie veld,” noem die voormalige Hoërskool Eldoraigne alumni verder. Vir inspirasie hoef Moolman nie ver te kyk nie, want in hierdie video-onderhoud arriveer sy twee kinders by hom.

“Hier is my inspirasie!,” sê hy en voeg dan by dat hy op professionele vlak na drie mense opkyk. “Jakus Coetzee, kondisioneringsafrigter by die Blou Bulle, het my gevorm in wie ek vandag in die werksplek is. Keir Wenham-Flatt is ook ‘n kondisioneringsafrigter wat my inspireer en in die afgelope tyd, Erik Korem ook.”

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://potchefstroomherald.co.za/78189/prestasie-is-sy-prioriteit/?fbclid=IwAR1V25yOTLrr-SnWGzNQf5glg6viE7SCKZcXj0bCaGYgq4s2eE4rKHOfaMI

Related Articles

Back to top button