NewsNewsSportSport

Luiperds se virtuele liga veroorsaak nuwe opgewondenheid

"Die rede waarom ons as VDM Media hierdie inisiatief voorgelê het vir die Luiperds Rugbyunie, is slegs om die Rugbygemeenskappe nader te bring aan mekaar en die stempel van Luiperds Rugby weer goed in Noordwes af te druk."

Rugby in sy tradisionele vorm met al sy flambojante drieë, skerpskutter doelskoppe en klipharde plettervatte is steeds weens die Covid-19 pandemie op die agtervoet. Die Luiperds Rugbyunie het wel iets wat tans die rugbyleemte kan vul – ‘n unieke klub-gebaseerde virtuele rugbytoernooi vir mans en damesspanne – die eerste in sy soort vir die unie. In die mansliga is 24 van die Luiperds se klubs in vier poele van ses spanne elk geloot. Die publiek kan dan op die Luiperds se Facebookbladsy vir hulle gunstelingspan stem. Klubs kom op ‘n weeklikse basis in “wedstryde” teen mekaar te staan met die span met die meeste stemme wat punte in die poel bou. Die top twee klubs van elke groep gaan dan deur na ‘n kwart-finaal, semi-finaal en dan uiteindelik die finaal.

 

Die Luiperdsafrigter, André Pretorius, het die loting regstreeks op Facebook gedoen, met die Luiperds se visepresident, Vernoreen Roems wat die dames se loting aangekondig het. Die damesliga het op 7 September afgeskop vir die sewe klubs wat vrouespanne het, waar elke klub teen mekaar sal speel met een span wat elke week ‘n loslootjie het. Die span wat na afloop van al die wedstryde bo aan die punteleer is, wen dan daardie liga. Die mansliga het op 31 Augustus begin en is die breinkind van Boela en Jaco van der Merwe van VDM Media. Boela is betrokke by Potch Dorp Rugbyklub en het saam met Jaco besluit om klubs die geleentheid te gee om op ‘n virtuele manier sake uit te spook. Die Luiperds se hoof uitvoerende beampte, Eugene Fourie, beklemtoon ook hierdie gedagte. “Ons het dit goedgedink om ‘n virtuele liga aan die gang te sit omdat daar nie vanjaar klubrugby plaasgevind het nie.

 
 

“Daardie smaak van trots in jou mond om vir jou dorp se eerste span uit te draf is iets wat hierdie jaar weggevat is van elke klub in die provinsie. “Die rede waarom ons as VDM Media hierdie inisiatief voorgelê het vir die Luiperds Rugbyunie, is slegs om die Rugbygemeenskappe nader te bring aan mekaar en die stempel van Luiperds Rugby weer goed in Noordwes af te druk,” verduidelik Jaco. Terselfdertyd is dit ook ‘n goue geleentheid vir die klubs om ‘n sosiale media dekking te groei, aangesien min van die klubs nie aktief op sosiale media is nie. “Dit gee ook weer ‘n sin van kameraadskap. Nie net aan die spelers nie, maar ook aan die hele rugbygemeenskap,” meen Jaco. Hy noem ook dat hy die Luiperds Rugbyunie president, Mervyn Taylor, HUB, Eugene Fourie sowel as Luiperds afrigter, André Pretorius, vir hulle ondersteuning met die virtuele liga bedank. Die groot prys vir die mans en vroueligas is ‘n stel truie vir die 2021 seisoen vir die wenners wat NWS Sport borg. “Ons wil graag die gemeenskappe uitnooi om elke Maandag op die Luiperds se Facebookblad vir hulle gunstelingspan te stem,” eindig Jaco. Vryburg loop tans voor in poel A, Klerksdorp in poel B, Zeerust in poel C en Stilfontein Hurricanes in poel D. Poel A: Vryburg, Orbit College, NWU Mafikeng, Leeudoringstad, Matlosana en Rustenburg Impala. Poel B: Klerksdorp, Mmabatho, Sannieshof, Fochville, Potch Tigers en Lonmin. Poel C: Zeerust, Pampoenboere, Westonaria, Hartbeesfontein, Koster en Brits. Poel D: Stilfontein Hurricanes, Potchefstroom Dorp, Hartbeespoort, Lichtenburg, Ikageng en Mafikeng . Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig: https://potchefstroomherald.co.za/77909/luiperds-se-virtuele-liga-veroorsaak-nuwe-opgewondenheid/

Related Articles

Back to top button