CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Ouma Sannie se 92ste verjaardag gaan nie ongevierd verby nie

Ouma Sannie Bezuidenhout se uitgebreide nageslag, van wie meeste tot in die vierde en vyfde geslag steeds in die Vaaldriehoek woon, het besluit dat hulle hul ouma se 92ste verjaardag op 25 Julie nie ongevierd gaan laat verbygaan nie.

Die Covid-19 inperking is vir meeste gesinne ‘n lastige uitdaging, maar vir talle bejaardes wat alleen woon en nie hul geliefdes mag sien nie, kan dit ‘n ware beproewing raak. As jy in dié tyd boonop jou 92ste verjaardag alleen en sonder die fisiese teenwoordigheid van jou geliefdes moet vier, kan dit ‘n eensame en neerdrukkende storie raak.
Ouma Sannie Bezuidenhout se uitgebreide nageslag, van wie meeste tot in die vierde en vyfde geslag steeds in die Vaaldriehoek woon, het besluit dat hulle hul ouma se 92ste verjaardag op 25 Julie nie ongevierd gaan laat verbygaan nie. Ouma Sannie bly heeltemal alleen in ‘n woonstel in Frankfort waar sy ondanks haar gevorderde jare, steeds kiertsregop is en al haar huiswerk self doen. Sy hou haar ook besig met verskeie kunsvorms soos lapverf, mosaïekwerk en decoupage.

Ouma Sannie Bezuidenhoudt se kleinseun, Ben Marais en sy vrou Malinda, het haar met geskenke en goeie wense uit die Vaaldriehoek gaan
verras.

Hoewel haar Vaaldriehoekse familie besef het dat hulle weens die besmettingsgevaar van Covid-19 nie gelyktydig op haar verjaardag na haar toe kon gaan nie, is haar kleinseun van Vanderbijlpark, Ben Marais en sy vrou Malinda, afgevaardig om haar met verjaardaggeskenke en seënwense uit die Vaaldriehoek te gaan verras. Om die verrassing nog groter te maak, het hulle haar van buite af gebel met die boodskap dat sy na die hek toe moes gaan om ‘n pakkie by ‘n koerier te kry. Groot was haar blydskap toe sy sien dat die “koerier” ‘n lid van haar eie bloedfamilie was wat haar spesiaal kom bederf het. Haar oudste dogter, Alta, het haar ook na die plaas in die omgewing geneem waar sy as kind grootgeword het – heerlike herinneringe aan ‘n geseënde en betekenisvolle lewe.
Die meeste van Ouma Sannie se ses kinders (van wie drie reeds oorlede is) het hulle deur die jare in die Vaaldriehoek kom vestig. Sy het ook 13 kleinkinders (een oorlede), 14 agterkleinkinders en vier agter-agterkleinkinders. Haar man, Ben Bezuidenhoudt, is reeds in 2002 oorlede. Haar raad aan medebejaardes is dat ‘n mens moet besig bly. “Ou mense wat sit en niks doen nie, gaan gou dood,” sê sy. Haar familie beskryf haar as ‘n “yster van ‘n ouma”. “Sy is ‘n sterk vrou en ons kan net die Here dank vir al die jare wat Hy haar vir ons gespaar het,” sê haar kleinseun Ben.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Ouma Sannie se 92ste verjaardag gaan nie ongevierd verby nie

Related Articles

Back to top button