EntertainmentNewsNews

Student woeker met musiek

‘Hustle’ is die term wat gebruik word om te beskryf hoe iemand hardkoppig ‘n doel of ‘n droom nastreef. Ruwaan Botha, (22) ‘n derdejaarstudent in meganiese ingenieurswese aan die NWU, is die personifikasie van die term ‘Hustle’. Meeste mense ‘hustle’ vir geld, maar Botha hustle met musiek as sy geldeenheid. “Ek is verby die punt …

‘Hustle’ is die term wat gebruik word om te beskryf hoe iemand hardkoppig ‘n doel of ‘n droom nastreef.
Ruwaan Botha, (22) ‘n derdejaarstudent in meganiese ingenieurswese aan die NWU, is die personifikasie van die term ‘Hustle’. Meeste mense ‘hustle’ vir geld, maar Botha hustle met musiek as sy geldeenheid.
“Ek is verby die punt wat ek fokus op die roem en soort van Rock and Roll lewe. As dit kom is dit ‘n bonus, maar vir nou fokus ek net om goeie musiek te maak,” vertel hy.
Hy het op driejarige ouderdom sy eerste tromstel gekry nadat sy ouers gesien het dat hy op elke oppervlak in die huis kan ritme hou.
“Ek het eers in Gr.3 begin lesse neem en in 2015 het ek besluit om iets anders te probeer, toe begin ek kitaar speel,” vertel hy.
Die pad was oop vir die tiener om ‘n indruk op die musiekbedryf in Suid-Afrika te maak, hoewel dit nie sonder sy eie uitdagings was nie. Sy pa is oorlede toe hy in Gr. 8 was, maar musiek het hom ook gehelp om die tragiese gebeure te verwerk.
Terwyl hy aan die ATKV Crescendo-kompetisie deelgeneem het, is hy genoop om ’n lied vir sy pa te skryf.
“Crescendo was ’n baie goeie ervaring, met van die grootste name in die industrie wat as mentors opgetree het. Hulle leer jou nie net musiek maak nie, maar ook hoe om jou musiek in die bedryf in te kry,” verduidelik Ruwaan.
Na die afloop van die werkswinkels, was daar ’n Crescendo toer wat die finaliste kon bywoon.
“My ma het net gesê ek moet gaan studeer, so ek het nie aan die hele toer deelgeneem nie. Nie dat dit Ruwaan se musiekdroom gekeer het nie. Hy het by elke moontlike plek wat hom ’n kans wou gee, gaan aanklop om op te tree. “Ek dink nie daar is ’n plek in Potch waar ek nog nie opgetree het nie,” lag hy.
In sy eerste jaar het hy ‘n ‘band’, Chandelier Kids gestig wat by JOOL opgetree het. Die jaar daarna het hy saam met Easy Company weer by JOOL opgetree. Deesdae speel Ruwaan kitaar vir die plaaslike ‘band’ Memphis Panic.
“Daar was maar oor die jare klein jakkalsies met die ‘bands’ saam, daarom is my eie musiek vir my so belangrik. Ek het volle beheer oor die kreatiwiteit,” vertel hy.
Dié Cravenweek kandidaat-rugbyspeler wat oorspronklik van Middelburg af kom, het ook ‘n belang in ’n 3D-drukmaatskappy.
“Dit gaan goed, maar alles wat ek doen, doen ek om my musiekdroom te befonds.
Tussen alles deur kon ek ook darem my ma help om van die finansiële druk van haar skouers af te vat.
Sy besef ook nou dat dit nie net ‘n stokperdjie is nie. Dat mens ‘n lewe van musiek kan maak,” vertel hy.
2020 is die jaar van Covid-19, die moeilikste tyd vir kunstenaars, maar op ‘n manier maak hy dit werk.
Sonder kantore het ek en Ruwaan langs ‘n vuur by my huis gesels. Hy speel een van sy eie liedjies, ek besef dadelik dat hy die durf en talent het om dit in die musiekbedryf te maak.
Ruwaan tree gereeld by Texas Rock Bar op as deel van die Jou Ma Se Potch-vertonings wat Dinsdaeaande aangebied word.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Student woeker met musiek

Related Articles

Back to top button