NewsNews

Twee oud-akademici sterf op dieselfde dag

Proff. Esté Vorster en Johnna Kruger, twee voormalige dosente aan die NWU en groot geeste in die akademie, is Dinsdag, 23 Junie in Potchefstroom oorlede.

Prof. Esté Vorster (geb. Hester Hendrina Martins, 11 Januarie 1943) is weens veelvuldige myeloma (bloedkanker) oorlede. Sy was die voormalige direkteur van die Sentrum van Uitnemendheid vir Voeding aan die NWU en was na haar aftrede steeds by navorsing betrokke.

Esté was ‘n briljante navorser wat vir jare op voedingsgebied by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) betrokke was. Sy het in die WGO se voedingsadviesgroep gedien wat riglyne moet saamstel vir die voorkoming van voedingsverwante kroniese siektes. Sy het ook vir die WGO die handleiding geskryf oor hoe om dieetriglyne in verskillende lande te ontwikkel. Dit word tans   wêreldwyd gebruik.

In 2011 word sy as sekretaris-generaal van ASSAf (Academy of Science of South Africa) benoem. ASSAf is Suid-Afrika se amptelike nasionale akademie vir wetenskap en verteenwoordig die land in die internasionale gemeenskap van wetenskapakademies.

Esté was vir 50 jaar met prof. Ig Vorster, voormalige dekaan van die NWU se Regsfakulteit getroud voor hy in 2015 oorlede is. Haar seun, Jan Vorster, beskryf sy ma as ‘n liefdevolle, hoogs intelligente en hardwerkende vrou met integriteit en ‘n sterk karakter.

Sy word oorleef deur haar seun Jan en dogter Hattie, asook ‘n skoondogter (Anzelle) en skoonseun (Lawrie) en vier kleinkinders – Anika, Helen, William, Lawrence en Nicole.

Haar troosdiens is op Woensdag, 1 Julie vanuit haar seun se huis waargeneem en is op Youtube deur die Gereformeerde Kerk, die Bult, uitgesaai.

Prof. Johnna (geb. John Evans Kruger) is weens hartversaking oorlede. Hy is op 8 Januarie 1943 in Taung gebore en het in Potchefstroom grootgeword.

Johnna was ’n geliefde akademikus en uitmuntende administrateur wat ’n blywende indruk op die NWU gelaat het. Hy was aanvanklik ’n dosent in Sosiologie, maar was later as buitengewone administratiewe bestuurder by die Fakulteit Geesteswetenskappe betrokke.

“Hy was ’n uitsonderlike, barmhartige en deernisvolle persoon. Hy was ’n tutor. Hy het dekades lank duisende studente met hulle vak- en loopbaankeuses gehelp. Prof. Johnna was bekend as ’n wandelende ensiklopedie met ’n ongeëwenaarde institusionele intelligensie. Ná sy aftrede was hy altyd gewillig om met talle projekte, soos met die opstel van die NWU se jaarboeke, te help. Ons sal hom waarlik mis,” sê die vorige senior bestuurder van Hoër Grade Administrasie en Seremonies, Bertus le Roux. Sy seun Lourens onthou hom as iemand wat baie omgegee het vir studente en almal ten alle tye wou help. “Hy was besonder konsensieus. Ons is van vroeg af geleer om nederig te wees en ander mense se belange voor die van onsself te plaas,” sê Lourens.

Hy word oorleef deur sy vrou Hester, hul drie kinders, Johnna (seun), Clarina (dogter) en Lourens (seun) en ses kleinkinders. Sy troosdiens is op 3 Julie gehou.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

https://potchefstroomherald.co.za/75358/twee-oud-akademici-sterf-op-dieselfde-dag/

Related Articles

Back to top button