NewsNews

Nege vragmotors geskaak!

Nege vragmotors is gister net buite Orkney naby ‘n informele nedersetting geskaak deur werkers van ‘n myn (wat gesluit het). Die werkers is ongelukkig omdat hulle hul werk verloor het en glo vier maande laas salaris gekry het. Die myn was reeds voor die uitbreek van die pandemie in finansiële moeilikheid.

‘n Boer van Wesselsbron in die Vrystaat, het die Herald se susterskoerant, Vaalweekblad, gekontak en oor die huidige stand van sake ingelig. Een van die 9 vragmotors behoort aan hom. Sy vragmotorbestuurder was onderweg met ‘n vol vrag witmielies (sowat 34 ton) van Louisdoring onderweg na Klerksdorp.

“Die vragmotorbestuurder het my gisteraand net na 19:00 gekontak met die nuus dat sy vragmotor by ‘n groot kruising net buite Orkney geskaak is,” vertel Louis Oosthuizen. Hy en sy verloofde het gisteraand deurgery en hou die situasie op ‘n afstand dop.

“Hy was glo aangesê om die vrag op die pad uit te tiep, maar hy het geweier. Hulle het toe glo die sleutel by hom gevat. Hulle is gelukkig nog nie aggresief teenoor die vragmotorbestuurders nie, maar praat nie met hulle nie en hulle moet net daar bly sit,” vertel Louis. Die vragmotorbestuurders het dus die hele nag buite in die koue gesit.

Die betogers dring daarop aan die die burgemeester met hulle kom praat voordat die vragmotorbestuurders hul vragmotors mag kry en verder ry. Die betogers het ook gedreig om die vragmotors aan die brand te steek. Die burgemeester het teen vanoggend nog glad nie aan hul versoek gehoor gegee nie.

Intussen sit die vragmotorbestuurders en die eienaars steeds met hul hande in hul hare en bid dat die vragmotors nie aan die brand gesteek gaan word nie.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Nege vragmotors geskaak!

 

Related Articles

Back to top button