NewsNewsSportSport

Die duiwe wat huis toe kom

Terwyl die mense in die straat opgehok was in die grendeltyd en selfs nou met vlak 3 saam nie oor en weer mag kuier nie, kan die voëls ten minste nog saam kwetter en koer.

Ook nie net die wilde voëls nie. In een van CW1 in Vanderbijlpark se kleiner strate draai ‘n groep wedvlug duiwe gereeld oor die huise. Eers gedog dis net buurman twee huise na links se duiwe wat vlerke sprei, maar toe agtergekom buurman so ses huise straat op se duiwe vlieg ook gereeld saam.

Piet Steenekamp, sê hy is nog maar ‘n nuweling as dit kom by wedvlugduiwe, as ek iets wil leer moet ek by Christo Herbst gaan hoor. Christo se agterplaas getuig van ‘n liefde vir duiwe. Daar is duiwe op die mure geverf en ‘n groot gedeelte van die erf word in beslag geneem deur netjiese hokke. Daar is die hokke met die wit duiwe. “Hulle word begrafnisduiwe genoem” sê Christo “mense hou daarvan om die wit duiwe by begrafnisse los te laat.” By troues ook, maar die arme duiwe is nou maar eenmaal meer bekend vir hul begrafnisdiente.

Vanuit die groter hok kan mens die gekoer van omtrent 80 wedvlug duiwe hoor.  ‘n Paar vlieg om die hokke rond, of sit sommer op die dak en beloer dinge. Twee kuier in die nabye boom. Dis rustig.

Christo het in 2004 amptelik aan wedvlugte begin deelneem. Hy is deel van die Vanderbijlpark Posduif Klub en sê sy duiwe het al vele vlugte gewen. “Hoe weet die duiwe waar is hul huis?” vra ek. “Geen mens weet nie” kry ek antwoord. “Party duiwe is net beter daarmee as ander. Hoe langer jy deelneem, hoe beter weet jy watter duiwe sal dit maak. Nie al die duiwe kom elke keer weer huis toe nie,” sê hy en frons dan as hy byvoeg, “daar is mos mense wat die duiwe afskiet.”

Christo se seun, Brendon, staan nader met ‘n duif in die hand om vir my die ringetjies om die pote te wys. Nou se dae dra elke duif ‘n ring om elke poot. Die eerste een is die ring wat hul kry met geboorte. Die word jaarliks vervang met ‘n ander kleur en bevat inligting waarmee die duif geïdentifiseer kan word en die eienaar opgespoor kan word. Dis nou as die eienaar en duiwe geregistreer is by die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif Organisasie (SANPO). Die tweede ringetjie is elektronies van aard en word ‘n E-ring genoem. Sodra ‘n duif terugkeer van ‘n wedvlug lees ‘n elektroniese klok in die hok dan die tyd op die E-ring. Wanneer al die duiwe dan terug is word die klok na die klubhuis geneem en word al die tye dan daar afgelaai op ‘n rekenaar.

Christo se kampioen duif pronk vir die kamera

Met die grendelstaat was alle kompeterende wedvlugte ook van die baan. Christo sê hulle hoop om eersdaags weer te kan begin. Intussen moet die duiwe wedvlugfiks bly en dis dié dat hulle  gereeld die kans kry om vlerke te klap oor die huise in die straat.

Amptelik is daar drie afstande waarin daar deelgeneem word. Langasfstand (beperk tot 800 km in Suid-Afrika), middelafstand van so tussen 200 en 400 km en dan die kort afstande van tussen 50 en 150 km. Duiwe wat aan ‘n middelafstand wedvlug gaan deelneem word anders afgerig en voorberei  as die wat aan ‘n langafstand gaan deelneem. ‘n Goeie wedvlugboer wéét watter duiwe sal die beste vaar op watter afstand. Die duiwe kry ook baie spesiale kosmengsels, die spesifikasies daarvan word nie sommer verklap nie. (Amper soos wat die hengelaars nie al hul geheime aasresepte sal weergee nie.) Soos in baie ander sportsoorte word die duiwe ook sporadies getoets vir verbode middels.

Duifliefhebbers of pigeon fanciers soos wat hul in Engels genoem word, spandeer baie tyd en geld om seker te maak al hul duiwe is in goeie kondisie. Vir die meeste is dit ‘n passie wat hul van jongs af gekweek het, maar daar is natuurlik die room van die oes wat wêreldwyd baie betaal om aan vlugte deel te neem waar daar groot geld op die spel is.

Hierdie sport het ook ‘n lang en roemryke geskiedenis. Volgens die Royal Pigeon Racing Association (RPRA) se webtuiste, www.rpra.org,  het die eerste gereelde wedvlugte in 1881 in Groot Brittanje plaasgevind.

Britse koninklikes het kort daarna betrokke geraak toe die toekomstige Koning George VI wedvlugduiwe as ‘n geskenk van Koning Leopold II van België ontvang het.  Gedurende die Eerste en Tweede Wêreld Oorloë is duiwe van die Royal Loft gebruik as posduiwe. Een van die posduiwe, Royal Blue, het die Dickin Medaljé vir Dapperheid ontvang vir sy bydrae om ‘n verlore vliegtuig in 1940 te rapporteer.

Na die oorlog het die duiwe weer aan wedvlugte deelgeneem en verskeie nasionale en internasionale wedvlugte gewen. Koningin Elizabeth II het deur die jare ook haar passie vir die duiwe behou en besoek nog gereeld die hokke in Sandringham.

Die oudste duif in die Herbst hokke

Die RPRA het ook ‘n interessante artikel op hul webtuiste waar hul ander bekendes lys wat deur die jare by wedvlugte betrokke was. Dit sluit mense soos Elvis Presley, Walt Disney, Pablo Picasso en die afgetrede boksers, George Foreman en Mike Tyson in. Die Vaaldriehoek se eie Bles Bridges word ook by name in die artikel genoem.

Almal van hulle het op een of ander stadium die opwinding ervaar van duiwe vang om in die mandjie te sit en op die trok te laai vir ‘n wedvlug. Die duiwe word gewoonlik die vorige aand al op die trok (saam met genoegsame kos en water) gelaai en na die wegvliegpunt in ‘n ander dorp geneem. Die mandjies word dan vroeg die oggend oopgemaak en die duiwe losgelaat. Die duiwe draai gewoonlik so ‘n paar maal in ‘n groep saam in die lug alvorens hul opbreek en elkeen sy eie koers inslaan huis toe. Christo sê duiwe is groepsgebonde en twee of drie sal baie maal saam terugvlieg.

Die verligting is groot as die duiwe uiteindelik weer almal in die hok is. Anders as in ander sportsoorte weet jy nooit dadelik hoe jou duiwe gevaar het nie. Die wenner word eers aangewys nadat almal se inkloktye by die klub ingedien is.

Christo se kampioen duif is in 2015 gebore en het haar eerste vier vlugte na mekaar gewen. Sy het ook al ‘n slag hier by die 8 000 ander duiwe in Gauteng gewen. ‘n Duiweboer ken elkeen van sy duiwe en hy bring die kampioen binne sekondes uit die groot hok om afgeneem te word. Haar vere blink groen en grys in die oggendson as sy eers die kant toe, dan anderkant toe kop draai asof sy wil seker maak ek kry haar beste kant afgeneem. Sy maak ‘n vinnige draai deur die lug voordat sy weer met ‘n wipstappie die hok betree.

Hy gaan vang ook sy oudste duif. Die kom al van 2004 saam met hom en het al vele vlugte agter die rug. Soos ‘n wafferse koningin kyk sy reguit vir die kamera, knik haar kop net so effentjies as die foto klaar geneem is en loop dat stadig en statig terug in die hok.

Wedvlugduiwe, resiesduiwe, posduiwe het die voorgeslagte hulle genoem. Dis ‘n sport vir koninklikes en beroemdes, maar ook vir jong kinders wat trots hul eerste broeipare dophou of mense wat met genoegdoening kyk hoe sirkel die duiwe een, twee, drie maal oor die buurt voordat hul weer na hul hokke terugkeer.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Die duiwe wat huis toe kom

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button