NewsNews

Carletonville en Fochville se skopboksers land op hul voete

Lede van skopboksklubs in die omgewing het hul nie deur die algehele inperking laat onderkry nie en het steeds fiks gebly.

Volgens die hoof-afrigter van die XKT skopboksklub op Carletonville, Shian Chimmy van Winkel, het lede van dié klub die afgelope paar weke self bly oefen. Al die lede was op Van Winkel se WhatsApp-groep waarop hy sy ondervinding en oefeninge met almal gedeel het.
“Ek staan maar vroeg op in die oggend en deel my oefeninge soos ek dit doen,” sê Van Winkel.
Hy het ook vir van die klub se meester-vegters slaansakke en ander toerusting geleen sodat hulle by die huis verder kon oefen. Volgens hom is al klub se vegters lede baie positief en gee hulle gereëld terugvoer oor hoe dit met hulle gaan.
Dit is egter nie seker hoe die pad vorentoe lyk nie, en Van Winkel oorweeg om dalk in die toekoms privaat klasse aan te bied om vegters steeds in die sport te laat ontwikkel.
Intussen is die afrigter van die Fochville XKT skopboksklub, shihan Jaco Pretorius, ook steeds positief.
Al dié klub se lede het ook deur die loop van die algehele inperking op hul eie geoefen.
Die klub se “Xtreme Kickboxing” stylhoof, shihan Raymond Phillips, deel ook voortdurend oefeninge met vegters wat hulle by hul huise kan doen.
Volgens Pretorius is hulle egter ook nog onseker wat die toekoms vir hulle inhou.
“Ons het nog nie regtig ‘n plan nie en kyk maar wat gaan gebeur. Hopelik kan ons dalk Junie stadig begin,” sê hy.
Pretorius het ook ‘n paar wenke met vegters wat wel by die huis oefen, gedeel.
“Dit is belangrik om eers altyd te strek van jou nek tot enkels, al is dit net vir ‘n rukkie se oefening.
‘n Mens kan maklik beserings opdoen want ons is meer passief en as jy dan begin oefen is jou spiere styf en nie warmgemaak nie.
Dit is belangrik dat mense in dié tyd genoeg water drink. Suurlemoensap by die water is ook baie goed. Dis ook maklik om in dié tyd verkeerd tee et, maar probeer om jou porsies eerder kleiner te hou en meer gereëld te eet as twee groot etes op ‘n dag,” sê hy.

Related Articles

Back to top button