CommunityNewsNewsPhoto Galleries

SAVF soek pleegouers

Sien u dalk kans om ‘n pleegouer vir ‘n kind in nood te wees? Indien wel, is die SAVF op Carletonville na u hulp op soek.

Volgens die SAVF se streeksbestuurder, me. Suzette Oosthuizen, ondervind die organisasie op dié tydstip ‘n tekort aan pleegouers.
Sy verduidelik dat kinders met tye as gevolg van nood deur die hof uit hul ouerhuise verwyder moet word. Hulle word dan gewoonlik na ‘n plek van veiligheid, soos byvoorbeeld die Harmonie-huis in Carletonville geneem.
“Die ideaal is egter dat hulle net vir ‘n aand tot drie weke in só ‘n sentrum bly en dan, indien hulle nog nie na hul ouers toe kan teruggaan nie, in die sorg van pleegouers geplaas word,” sê sy.
As gevolg van ‘n tekort aan pleegouers, moet kinders egter vir al langer tye in ‘n plek van veiligheid, waar al die kleingoed nie noodwendig aard nie, gehou word. In sommige gevalle kan kinders vir jare uit hul ouers se sorg gehaal word.
“Ons doel is egter om die kinders weer een of ander tyd met hul biologiese ouers te herenig. Pleegouers moet ook toegang tot die biologiese ouers gee om, indien hulle wil, op naweke die kinders te kom besoek.
Dit is nie nodig dat pleegouers besonder welaf hoef te wees nie. Hulle met net met liefde na die kinders kan omsien. Pleegouers kwalifiseer ook vir ‘n toelaag van de staat,” sê sy.
Oosthuizen het ook gereageer op ‘n foto van twee kinders wat blykbaar na pleegouers op soek was wat onlangs op sosiale media rondgestuur is.
“Ons het die persoon wat dit gestuur het, opgespoor en hulle daaroor aangespreek. Hoewel die persoon goed bedoel het, is dit teen die stipulasies van die Kinderwet om kinders in pleegsorg se identiteit openbaar te maak,” sê sy.
Mense wat belangstel om pleegouers te word, kan die SAVF se maatskaplike dienste-kantoor by (018) 786 1016 skakel.

Related Articles

Back to top button