NewsNews

Eerste vroue-adjunkhoof vir Callies

Vir die eerste keer in die skool se geskiedenis, spog Hoërskool Carletonville met ‘n vrou as adjunkhoof.

Mev. Johanna le Roux is sedert 1 Julie die skool se adjunkhoof in beheer van kurrikulums.
Hoewel haar aanstelling nuut is, is sy egter geen nuweling by die skool nie.
Sy is self ‘n oud-Callie, én oud-leerling van Laerskool Danie Theron en hou reeds sedert 1992 by Callies skool.
Ná sy haar studies aan die Potchefstroom-Universiteit voltooi het, het sy net by twee ander skole, Hoërskool Westonaria en Hoërskool Wonderfontein skoolgehou voor sy na haar alma mater teruggekeer het.
“Ek wou nog altyd skoolhou en het regtig ‘n passie vir die kinders. Ek kan myself niks anders sien doen nie,” sê Le Roux.
Sy gee egter toe dat die onderwys deesdae vol uitdagings is. Uitdagings is egter iets waarvoor dié sterk vrou nie terugstaan nie.
“Ons hou lankal nie meer skool soos toe ek begin het nie en ‘n mens moet voortdurend kopskuiwe maak,” sê sy.
Hoewel sy meer druk in die nuwe pos moet hanteer, sê sy dit gee haar ook kans om meer insette en belangrike besluite wat by die skool geneem word, te kan gee.
“Ons het kinders in die skool wat regtig ‘n verskil kan maak. Dit is ‘n voorreg om te kan help om hulle met die nodige kennis die wêreld in te stuur,” sê sy, op die vraag wat sy die meeste van skoolhou geniet.
Haar eggenoot, mnr. Deon le Roux, is die skool se ander adjunkhoof.

Related Articles

Back to top button