NewsNews

Gevangenes brand in sel

Minstens 13 verhoorafwagtende gevangenes is op 8 Julie met ernstige brandwonde hospitaal toe geneem.

Minstens 13 verhoorafwagtende gevangenes is op 8 Julie met ernstige brandwonde hospitaal toe geneem.
Dit volg nadat een van die selle in die Potchefstroom Gevangenis aan die brand gesteek is.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, word ’n saak van kwaadwillige beskadiging van eiendom ondersoek.
Volgens hom is die polisie ingeroep nadat die groep verhoorafwagtende gevangenes oproerig geraak het. Met die polisie se aankoms het een van die gevangenes iets binne in die sel aan die brand gesteek. Die bewaarders het glo vinnig opgetree om die gevangenes uit die sel te verwyder.
Volgens ’n bron wat op die toneel was, sou daar ’n paar mense dood gewees het as dit nie vir die bewaarders se vinnige optrede was nie.
Die brand is glo aan die voorkant van die sel gestig, wat die gevangenes binne in die sel vasgekeer het. Die plaaslike brandweer is ontbied en het die brand onder bedwang gebring. Hoewel daar skade aan die sel aangerig is, is die integriteit van die struktuur nie in gedrang nie.
Volgens nog ’n bron op die toneel was daar van die mense wat baie ernstige brandwonde opgedoen het. Daar was aanvanklik gerugte dat mense op die toneel dood is, maar volgens Chaka is niemand op die toneel dood verklaar nie.
“Ons weet nie of daar moontlik mense in die hospitaal dood is nie,” het hy gesê.
Busi Shibambo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het bevestig dat ‘n brand in een van die selle uitgebreek het.
Volgens haar is niemand tydens die brand oorlede nie.
“Ongelukkig is 20 van die 44 gevangenisse op die toneel vir rook inaseming behandel. Sewe het klein beserings opgedoen. Daar is 13 gevangenisse wat met ernstige brandwonde hospitaal toe geneem is,” het Shibambo gesê.
Volgens haar is die brand deur gevangenisse gestig nadat ’n een van die ander gevangenisse na ’n ander sel geskuif is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button