NewsNews

‘Geen rommelstrooi’ tekens kom, sê Merafong

Die Merafong City Plaaslike Munisipaliteit beloof om binnekort tekens aan te bring wat mense waarsku om nie op sekere plekke rommel te strooi nie.

Dit volg op vrae van die Herald oor die kopseer waarmee twee bejaarde inwoners van Fochville, mev. Evonne de Beer en haar man, Kobus, opgeskeep sit. Hulle woon aan die onderpunt van Muntstraat, net langs die veld voor die verkeersdepartement.
Volgens mnr. De Beer, wat al 20 jaar op die erf woon, het dinge die afgelope sowat vyf jaar drasties agteruit begin gaan ná mede-inwoners besluit het om hul rommel op die hoeke om die gesin se erf te gooi.
“Hulle is net te lui om die entjie verder na die vullisterrein te ry en gooi dit nou sommer hier,” kla mev. De Beer, terwyl sy na die hope rommel op die sypaadjie langs Muntstraat sowel as die een langs Bothastraat wys.
“Die ergste van alles is dat dit mense is wat net hier in ons omgewing bly,” voeg haar man by, terwyl die egpaar en die Herald na ‘n klein wit vragmotor wys wat stadig verby hul erf ry. Hulle ken selfs die adresse van sommige van die rommelstrooiers, wat verskeie besighede insluit.
“Ek vra soms aan van die mense of hulle sal toelaat dat iemand ander so voor hulle erf kom mors. Dalk moet ons ons goed by hulle gaan gooi,” kla mnr. De Beer.
Volgens die egpaar het hulle al verskeie kere by raadslede gekla. Hoewel die raadslede help om die probleem tydelik op te los, stop dit nie die mense wat aanhoudend gemors oorkant hul huis kom gooi nie. Hulle hoop nou dat die munisipaliteit tekens op die hoeke kan oprig wat morsjorse sal waarsku dat daar teen hulle opgetree sal word.
Die De Beer-egpaar vra ook of iemand dalk vir hulle ‘n sekuriteitskamera kan skenk om teen hul muur op te sit om die mense wat rommel stort af te neem, sodat hulle by die munisipaliteit verkla kan word.
“Hier is ‘n kleuterskool naby. Wat sal gebeur as hier ‘n siekte of iets weens die rommel uitbreek,” sê mev. De Beer.
Die Herald het die munisipaliteit Dinsdag uitgevra oor wat hulle aan die probleme gaan doen.
“Die soliede afval-afdeling is voortdurend besig om saam met Openbare Veiligheid te werk om boetes en lasbriewe uit te reik vir mense wat rommel strooi in areas wat nie daarvoor bedoel is nie. Ons is op die punt om tekens wat aandui dat mense nie onwettig rommel mag strooi nie, in probleem-areas op te rig,” sê ‘n munisipale woordvoerder.

Related Articles

Back to top button