CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Digter wys haar staal in kompetisie

‘n Digter van Carletonville het onlangs ’n toekenning met haar liefde vir skryf ingepalm.

Volgens Patricia Balfour Viljoen het haar vriend en illustreerder, Francois Meyer, haar motiveer om vroeër dié jaar vir ‘n Afrikaanse skryfkompetisie deur Ink Skryf in te skryf.
Deelnemers moes al teen Maart‘n boek of digbundel van 120 bladsye lank, asook die voorblad en bedanking instuur.
‘n Span moderators het sedert dié tyd deur al die inskrywings gegaan.
“Dit was nogal frustrerend om so lank te moes wag, want ek het niks van hulle gehoor nie. Ek was nie eens seker of my bundel by hulle uitgekom het nie,” sê Viljoen.
Al die wag was egter die moeite werd. Sy is verlede naweek na die finaal van die kompetisie wat by die Casa Toscana Lodge in Lynnwoord Manor in Pretoria gehou is, uitgenooi. Groot was haar verbasing toe sy as naaswenner aangewys is.
Vir Viljoen is dié toekenning egter net nog ‘n motivering. Dié vriendelike ouma het minder as ‘n dekade gelede haar eerste Christelike digbundel die lig laat sien, bloot omdat sy so lief is vir skryf. Dié stokperdjie het egter nou ook tot ‘n deeltydse beroep gevorder, omdat sy vertaalwerk vir ander skrywers doen.
“Ek het gegaan van ‘n huisvrou tot hierdie hele ding,” sê sy.
Viljoen se afgelope bundel was die eerste wat sy in Afrikaans geskryf het omdat sy eintlik Engels grootgeword het. Sy geniet dit egter, en sê sy voel trots om vir “Afrikaans te veg”. Hoewel haar nuwe bundel eers amptelik op 7 Desember vrygestel gaan word, sal dit ook op Swart Vrydag teen ‘n spesiale prys verkoop word.
Mense wat met Viljoen in aanraking wil kom, kan haar by 076 983 2305 skakel.

Related Articles

Back to top button