Editor's choiceLocal newsNews

Kyk wie is vanaand op 7de Laan

Kykers van die gewilde Afrikaanse sepie 7de Laan gaan vanaand (Donderdag) kennis maak met ‘n nuwe karakter, Kristin de Swart.

Dié 24-jarige karakter is niemand anders as Loriska Bubb (ook 24), ‘n oud-Stoffberger en inwoner van die dorp nie.

Bubb, wat ook lid van die gewilde sanggroep Mwah! is, sê dat sy baie opgewonde is oor die rol wat sy in die uiters gewilde sepie losgeslaan het.

“Ek vertolk die rol van Kristin de Swart. Sy doen aansoek vir ‘n pos by Bruynwaves, terwyl Vanessa (Ingrid Paulus) op kraamverlof is.”

Nadat Altus (Heino Schmitt) die pos aan haar gee, sorg Kristen vir ‘n bietjie drama tussen die inwoners van die Laan.

“Kykers sal maar moet wag en sien, maar dinge gaan interessant raak,” het Bubb gesê.

Sy vertel dat sy reeds in Desember begin skiet het en dat sy huidiglik in ‘n gasrol is.

Oor haar eerste dag op die stel van 7de Laan sê sy dat sy gevoel het soos “een van daai kinders wat hul toebroodjies in die badkamer wil eet”.

“Ek het baie min mense geken en die opset was baie vreemd en onbekend. Tog is die mense daar wonderlik en het ek dadelik op ‘n goeie voet saam met die regisseurs begin werk,” het Bubb gesê.

Sy sê voorts dat die rol net op die regte tyd gekom het: “Dit was inderdaad ‘n `blessing’ dat die rol op die tyd wat dit het gekom het. Ek moes al twee keer kontrakte van Villa Rosa afkeur — nadat ek oudisies gedoen het en rolle gekry het — as gevolg van my prioriteite ten opsigte van Mwah!”

Sy gaan egter nie vir Mwah! opsy skuif nie, en sê dat dit net goeie tydsbestuur en beplanning verg om beide partye gelukkig te hou.

Die sanggroep, wat uit haarself, Talana Vuren en Chané Brits bestaan, en deur Louis van Wyk bestuur word, het die afgelope tyd groot sukses behaal.

“Ons laaste toer was landswyd, saam met Krurt Darren, en dit was ‘n belewenis,” het sy vertel.

“Die debuutalbum `Waarvoor wag jy?’, is al sowat drie maande op die rakke van uitgesoekte musiekwinkels en ons enkelsnitte, `Hartebreek’, `Gee gee gee’ en `Sandra Prinsloo’, was al op verskeie radiostasies op die `top charts’,” het Bubb gesê.

Oor die roem wat haar rol in 7de Laan moontik oor haar pad sal bring is sy baie beskeie.

Op ‘n vraag oor hoe sy gaan reageer as sy van nou af meer op straat herken sal word, het sy die volgende te sê gehad: “Ek kan vir eers nie die vraag antwoord nie, omdat ek nog nooit in so ‘n situasie was nie.

“Dit gaan glad nie vir my oor mense wat my herken nie; as ek kan doen wat ek doen en dit goed kan doen is my hart gelukkig.”

Volgens haar is haar ouers, Gideon en Sheila Bubb, stil, trotse mense.

“Ek het drama gaan swot en min ouers glo in hul kinders soos myne doen; my ouers is my steunpilaar.

“Ek is geseënd met die beste ondersteuning waarvoor enigiemand kan vra,” het die nuwe karakter van die Laan gesê.

Related Articles

Back to top button