Huisrowers loop hul rieme styf

Drie huisrowers het verlede Donderdagoggend hul rieme styfgeloop toe hulle by ’n huis in Springsweg ingebreek het. Volgens inligting het twee mans, wat glo met messe gewapen was, toegang tot die huis verkry en die eienaar in ’n slaapkamer vasgebind, waarna hulle sekere items bymekaar gemaak het. Die eienaar kon glo daarin slaag om die …

Drie huisrowers het verlede Donderdagoggend hul rieme styfgeloop toe hulle by ’n huis in Springsweg ingebreek het.

Volgens inligting het twee mans, wat glo met messe gewapen was, toegang tot die huis verkry en die eienaar in ’n slaapkamer vasgebind, waarna hulle sekere items bymekaar gemaak het.

Die eienaar kon glo daarin slaag om die twee rowers te oortuig dat iemand op pad na die huis was, waarop hulle die kamer vir ’n wyle verlaat het.

In dié tyd kon die eienaar daarin slaag om homself te bevry, maar die twee inbrekers het teruggekeer en hom weer vasgebind.

Hulle het hom toe in die kamer gelaat, waarna hy weer daarin kon slaag om homself te bevry.

’n Skietery het daarna ontstaan, wat tot gevolg gehad het dat twee van die rowers gewond is.

Een is ernstig gewond en is op die toneel behandel, maar hy het aan sy wonde beswyk.

Die tweede rower het op die vlug geslaan en is in ’n erf skuins agter die huis wat die teiken was, aangetref.

Adele de Jager (55) wat in dié huis in Dirk van der Hoffstraat woon het aan die Herald gesê dat sy skote gehoor het en kort daarna ’n man in haar erf opgemerk het.

“Ek het aan hom gevra wat hy in ons erf doen en hy het vir my gesê dat hy geskiet is,” het sy aan die Herald vertel.

Volgens haar was die man bebloed en het sy hulp ontbied. Die man is op die toneel behandel en na ’n hospitaal vervoer.

Nog ’n ooggetuie, Juantelle Oosthuizen (34), wat reg langs die huis waar die voorval plaasgevind het woon, het haar vermoedelik in die derde rower vasgeloop.

“Ek was binne my huis toe ek skote hoor en het na buite gegaan om te sien wat aangaan,” het sy gesê.

’n Paar meter vanaf haar huis het sy haar vasgeloop in een van die verdagtes wat toe omgedraai en op die vlug geslaan het.

“Ek het groot geskrik en is dadelik weer terug in my huis in,” het sy gesê.

Volgens kap Pearl van Staad het die rower, wat in die hospitaal opgeneem is, Maandag in die hof verskyn op ’n aanklag van huisroof.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button