LifestyleLifestyle and Health

Swangerskapopvoedingsweek: Voorgeboorteklasse is belangrik

Daar is bewys dat kindergeboorte-opvoeding baie voordele vir die verwagtende ouers en die pasgebore baba inhou.

“Die perfekte dans van geboortehormone” is die tema van vanjaar se Swangerskapopvoedingsweek van 18 tot 26 Februarie.

Kindergeboorte-opvoeders en hospitale regdeur die land span saam om die kollig te laat val op hoe kennis verwagtende ouers bemagtig.

Daar is bewys dat kindergeboorte-opvoeding baie voordele vir die verwagtende ouers en die pasgebore baba inhou.

Lynne Bluff, nasionale koördineerder van die Professionele Forum vir Kindergeboorte-opvoeders, verduidelik hoe voorgeboorteklasse dit makliker maak om die werking van hormone voor, tydens en na geboorte te verstaan.

“Ons hormoonstelsel berei ons in die laaste weke, dae en ure voor vir doeltreffende kraam; dit help ons om die pyn en stres te bestuur en verseker ’n veilige geboorte,” sê Bluff.

“Hormone gee ons ook ’n gevoel van intense beloning en vreugde wanneer ons ons baba die eerste keer ontmoet. Die geboortehormone moet perfek saamwerk vir dit alles om in harmonie te gebeur.

“By voorgeboorteklasse leer ouers hierdie ingewikkelde stappe. Die kennis en insig wat hulle kry, help met die ‘dans’ vir ’n beter geboorte-ervaring.”

“Vier hormone is die sterre in die vertoning – oksitosien, endorfiene, katesjolamiene en prolaktien. Elkeen bring sy eie styl na die kraamdans.

“Oksitosien speel die hoofrol, en lei jou met liefde tot die vorming van ʼn band met jou baba, terwyl katesjolamiene jou opgewonde maak en energie gee.

“Endorfiene navigeer jou deur die gewaagde draaie en swaaie, en die voedende prolaktien sal by die skouspelagtige einde daar wees om die baba te verwelkom,” verduidelik Bluff.

“Daar is betroubare bewyse dat opvoeding oor kindergeboorte vertroue opbou, vrees verminder en swanger ouers met mekaar in verbinding plaas sodat hulle mekaar kan ondersteun,” sê Lauren Macnab van Bio-Oil, amptelike vennoot vir Swangerskapopvoedingsweek.

“Daar is talle voordele vir verwagtende ouers en die pasgebore kind.”

Om ʼn professionele kindergeboorte-opvoeder in jou gebied op te spoor, gaan na www.expectantmothersguide.co.za of vra jou plaaslike mediese praktyk, kliniek of hospitaal.

Ses goeie redes om voorgeboorteklasse by te woon:

  • Kundigheid – die opvoeders is ervare verpleegsusters en vroedvroue wat gekies het om in kindergeboorte-opvoeding te spesialiseer omdat hulle passievol daaroor is.
  • Kennis – jy leer van AL die opsies vir kraam wat beskikbaar is, en die voor- en nadele van elkeen.
  • Gereedskap – jy kry praktiese wenke en leer tegnieke – soos asemhaling, ontspanning, posisies, massering en visualisering – wat jou kan help om makliker te kraam.
  • Selfvertroue – jy en jou maat sal meer selfvertroue hê as julle weet wat om te verwag en hoe om dit te hanteer.
  • Voorbereiding – jy sal oor alle aspekte van swangerskap en geboorte ingelig word – van rekmerke tot hoe om vir jou pasgebore baba te sorg.
  • Samesyn – jy sal ander verwagtende ouers in jou omgewing ontmoet. Lewenslange vriendskappe kan so gevorm word.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button