Almal moet padreëls gehoorsaam

"Motoris" skryf per e-pos:

Dit het my onlangs byna ‘n uur geneem om die 15km na my werkplek af te lê. Die verkeerslig op die Heidelbergpad (by Carnival City) was buite werkling en het net geflikker.

Waar was die Ekurhuleni Metro Polisie om die wet toe te pas en te help dat die verkeer vloei toe die probleme ontstaan het?

Al wat taxis, bakkies en selfs gewone voertuie was het sommer op die middelman deur die modder en gras begin ry, om voor in die ry te gaan indruk.

Daar was ‘n bestuurder van ‘n wit Polo wat amper beheer oor sy vertuig verloor het, toe hy gejaag en in die modder gegly het.

Dit was opvallend dat daar ook polisievoertuie en -bakkies was wat dieselfde gedoen het.

Ons is veronderstel om die wet na te kom, maar nee, dit is mos nie nodig vir die Ekurhuleni Metro en die polisie om die wet soos ander landsburgers na te kom nie.

Waar is die wetstoepassers wanneer daar sulke verkeersprobleme is en die voertuie vir kilometers ver staan?

Redakteur se nota: Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni Metro Polisie, het soos volg gereageer:

“Ons is bewus daarvan dat die genoemde kruising dikwels problematies is en ons monitor dit, met die doel om in te gryp wanneer uitdagings ontstaan.

“By tye is beamptes, wat verantwoordelik is vir hierdie massiewe gebied, elders besig en ons prioritiseer volgens die erns van die voorvalle.

“Hoewel beamptes sulke probleme monitor, kan die gemeenskap dit aanmeld by 011-999-8660 vir ons spoedige aandag waar uitdagings mag ontstaan.”

Exit mobile version