Nelson Mandela sterf

Oud-President Nelson Rolihlahla Mandela is gisteraand op die ouderdom van 95 oorlede.

Hy was inderdaad ‘n ikoon wat  ‘n ongelooflike impak op Suid-Afrika, maar ook op die ganse wêreld gehad het.
‘n Vegter, ‘n triomferende staatshoof, ‘n leier,  ‘n versoener, ‘n patriarg, ‘n Nobelpryswenner is maar ‘n paar woorde wat die voormalige President van Suid-Afrika beskryf.
Die pad wat hy geloop het was ‘n lang pad wat miljoene mense se lewens aangeraak het. Sommige sal wel altyd stry dat dit nie noodwendig ten goede was nie, maar, danksy die vegter teen apartheid, het demokrasie in 1994 in Suid-Afrika die lig gesien.
Hy was versoenend teenoor sy politieke vervolgers, nadat hy 27 jaar gevange gehou is te Robbeneiland.
Toe hy uiteindelik vrygelaat is, het hy bereik waarvoor hy baie jare geveg het. Daar was baie meer hoogte- as laagtepunte.
Wie sal ooit die oomblik kan vergeet toe hy die William Webb Elis trofee aan Francois Pienaar oorhandig het, nadat die Springbokke die 1995 Rugby Wêrelbeker gewen het.
Die geliefde oud-President is in die winter van 1918 gebore in een van die hutte van die statjie Mvezo, langs die Mbasherivier, naby Umtata, in Transkei.
Daarna het ‘n epiese reis, van ‘n veroordeelde vryheidsvegter tot ‘n triomferende staatshoof, in 1994, gevolg.
Madiba se vergewenisgesindheid, sy liefde vir sy land se mense en die enorme bydrae wat hy tot Suid-Afrika en die die res van die wêreld gemaak het, sal nie gou vergeet word nie.

 

Exit mobile version