Hermien is Sportvrou van die Jaar

Hermien Peens is onlangs aangewys as die Gauteng Veerpyltjie Assosiasie se Sportvrou vir 2016.

’n Lid van die Kingsway- en Ekurhuleni-Oos Assosiasie se Veerpyltjieklub is onlangs aangewys as die Gauteng Veerpyltjie Assosiasie se Sportvrou vir 2016.

Hermien Peens (53) het in 2012 aan die sportsoort begin deelneem toe sy vir die Pumas in Witbank begin speel het.

“In 2014 het ek vir die Steve Tshwete Klub in Middelburg gespeel en sedert Maart 2015, toe ons na Brakpan verhuis het, speel ek vir Ekurhuleni-Oos,” het Peens vertel.

Sy ding ook op nasionale vlak mee en het reeds vier keer die SA-span gehaal.

Peens was ook vanjaar die spanbestuurder vir die Ekurhuleni Distrik-span wat goud gewen het by die nasionale kompetisie, wat vroeër vanjaar in Bloemfontein gehou is.

Sy speel ook vir die Masters, wat ’n kompetisie vir die ouer garde is.

Tydens die Gauteng Veerpyltjie Assosiasie se prysuitdeling het Peens ook ’n sertifikaat ontvang vir 100 persent bywoning, na aanleiding van die feit dat sy vanjaar nie een Gauteng kompetisie misgeloop het nie.

Peens se eggenoot, Wessel speel ook veerpyltjies maar anders as sy vrou, wat gewoonlik in die kol is, speel hy net sosiaal.

“Veerpyltjies is ’n wonderlike sport vir oud en jonk. Die hele familie kan daaraan deelneem, selfs ouma en oupa,” het Peens gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version